Vrystaters by die see

Dis 10 jaar sedert die Roodts ‘n seevakansie gehad het – ‘n ordentlike Desember-by-die-see-vakansie. In die tussentyd was daar “vakansies” aan huis, wat mettertyd stopgesit is weens familietwiste (familielede wat op die laaste minuut kanselleer vir die beplande besoek aan Bloemfontein of vir die kersmaal); die onuitstaanbare Desemberse hitte in Bloemfontein; en, les bes, my eie kompulsiwiteit wat my (en, in die proses, my gesin) eenvoudig nie toegelaat het om tot ruste te kom in ‘n huis waar jy gedurig goed sien wat vuil is of wat reggemaak moet word nie. Later van tyd, en op ‘n baie meer aangename trant, was daar vakansies op Stellenbosch by ‘n geliefde vriendin se huis. (Ons het kastig die huis opgepas terwyl hulle by Strandfontein vakansie gehou het in die huis wat haar ma voortydig aan haar bemaak het, maar in werklikheid gee haar dorpshuis betekenis aan die idee van toesluit-en-waai.)

Die Desember van 2006 vind die Roodt-gesin van drie in Llandudno. Huis op die Internet raakgetrap en summier gehuur – vir ‘n volle, salige drie weke. Hemelse uitsig na alkante, en die strand reg onder ons. Selfs ons tiener vind aanklank by hierdie vakansieplek. Hoe dan anders? Dis 2km van Sandy Bay af en, alhoewel hy geen idee gehad het van die betekenisvolheid van hierdie ligging nie, het sy vriend Emuel se bewondering hom gou laat regop sit. Hoe cool is dit? (Maak nie saak dat ons, ten tyde van hierdie skrywe, nog nie ons wit lywe in die rigting van Sandy Bay gewaag het nie.)

Op die dag wat ons al ‘n week lank by Llandudno rondlê, besluit ek dat dit tyd is om strand toe te gaan. Ek is per slot van sake die ma van die huis en die een wat ons kalender, sosiaal en andersins, bestuur. Ek het nie verniet ure lank in die Mall rondgehang nie: Vir myself het ek ‘n paar kleurvolle stranduitrustings aanmekaar gesit – kompleet met ‘n glinstersmeersel vir die décolletage en etlike ander interessante bykomstighede; vir die mans in my lewe, wat terloops totaal sonsku is, het ek ure lank gesoek na ‘n strandskuiling (“beach shelter”) in die regte skakering – iets wat sal pas by ons opslaanstoele wat al jare lank bo in die gangkas lê en wag op nét so ‘n geleentheid.

Maar ek dwaal af. Ons kom op die warmste tyd van die dag op die strand aan – ja ja, ek weet, maar dit vat ‘n rukkie om alles bymekaar te kry. Ons vriend Meyer de Waal, ‘n ex-Brandforter en ‘n regte branderboetie (lees “supercool surfer dude”), het ‘n manier om ‘n paar goed in ‘n rugsak te gooi, sonbril op sy kaalkop te skuif en dan te arriveer asof hy in die wieg gelê is om op daardie oomblik op daardie plek te wees. Dít is mense soos ons nie beskore nie.

Dit neem bykans 30 minute om die verdomde strandskuiling op te slaan. Die verkoopsman by Kloppers het duidelik gelieg: “Mevrou, hierdie ding is verskriklik maklik. Ek het self so een. Slaan homself so te sê op.” Hóm sal ek beslis terugkry, al moet ek nou ‘n spesiale trip na Kloppers toe maak om hom by te kom. Terwyl die manne worstel, staan ek nonchalant in die bloedige son rond in my oranje kostuum (naels en lippe spesiaal gedoen in Revlon se Orange Flip) en probeer lyk of die Roodts, kollektief, weet wat ons doen. Het ek genoem dat daar nie aanwysings van watter aard ookal saam met die verpakking gekom het nie? Strandskuiling in plek – weliswaar onvas omdat Anton daarop aandring om dit op die graspolle staan te maak vir ekstra isolasie – is die ontwerperstrandstoele aan die beurt. Net om te ontdek dat die strandskuiling vir klein Yslanders gemaak is: Óns drie gaan beslis nie in hierdie igloo inpas nie – in elk geval nie gelykertyd nie, en veral nie mét die stoele nie. En om die kroon te span: Vlakvoor ons word lekkerlê-sonstoele uitverhuur, terwyl ons stoele al die pad van Bloemfontein af aangery het in ‘n motor waarvan die kattebak soebat vir die ondersteuning van ‘n Venterwaentjie!

My sonsku manne vind mettertyd skuiling en ek sit voor hulle op die strandhanddoek, boude lekker in die sand ingewikkel, met die gedagte om aan ‘n sonbruinlyf te werk. Maar ‘n groot ongemak sak geleidelik oor my: Jy het heelwat (meer) nodig om soos ‘n ingelyfde op Llandudno te lyk. Voor my sit ‘n groepie bronsbruin jongmense wat heen-en-weer ‘n yskoue bak kersies aangee, glimmend van kondensaat – terwyl ek sit en smul aan koffie en ‘n gemmerbroodmannetjie wat deel was van Jade se kerspakkie aan ons (sy is die voorgemelde Meyer se middelste kind en bak al amper so goed soos my skoonma). Leon-Pierre het ‘n klein rugbyballetjie met ‘n nagemaakte Nike-embleem saamgebring strand toe in die hoop dat hy en sy pa dit ‘n bietjie sal rondgooi – maar voor ons mik die lewensredders in hul vryetyd ‘n stel boullé, silwer nogal, oor die sand (vir die oningeligtes: Dis die balle waarmee mans in Frankryk ure lank verwyl op sypaadjies, grasperke en sandkolle).

Na ‘n uur gee ons die stryd gewonne en blaas die aftog in “ons” strandhuis se swembad. Die Atlantiese Oseaan se water is in elk geval hopeloos te koud!

Ns.
Ons is weer strand toe. Mens moet per slot van sake ‘closure’ kry! Hierdie keer huur ons sommer ‘n bleddie sambreel – twee, om presies te wees. En neem wyn saam: In hierdie sin geniet Llandudno nog meer vryheid as Clifton. Later lees ons in Die Burger dat Llandudno se strand een van die Kapenaars se bes bewaarde geheime is.

Desember 2006

Click here to download