Vrystaters by die see ll

Vrystaters by die see – vers twee

‘n Hele aantal vriende het verneem na ‘n opvolg op die Roodts se kersuittog van verlede jaar: Om vanjaar hand aan papier te slaan, gaan dus met ‘n redelike mate van angstigheid gepaard, hoofsaaklik omdat ek gespanne raak oor ander mense se verwagtings van my. Maar – here goes.

Ons bly weer in die hemelse Llandudno. Huur, soos laas jaar, by Roger & Rose. Ons het die mees onbeskryflike uitsig oor die klein, beskutte strandjie hier. (My getroue lesers sal onthou dat ek laas jaar berig het, aldus Die Burger, dat Llandudno se strand een van die Kapenaars se bes bewaarde geheime is.) Die see strek wes en noord om ons uit in al haar glorie, en ons beleef die mees spectacular sonsondergange wanneer die son teen agtuur oor die kim verdwyn. Wanneer die weer saamspeel, neem ons hierdie tyd op ons houtdek stelling in, glasie wyn ter hand, om die skouspel te beleef wat vir ‘n goeie twintig minute of meer voortduur: Eers ‘n vuurwarm, oranje gloeïng, gevolg deur ‘n skugter pienk-pers wat mettertyd met die diepdonkerblou van die see saamsmelt. En dan kom die maan.

Ons is vanjaar maar skunnig vir die strand. Lekker woord, nè? Het dit raakgelees in een van Hennie van Coller se resensies wat my heeltemaal dronkslaan as gevolg van al die Afrikaanse woorde daarin wat ek nie ken nie. Elk geval. Na laas jaar se gesukkel met die donnerse strandskuiling en die oortollige strandstoele wat ons al die pad van Bloemfontein af saamgery het, is ons nie oorhaastig om by die strand uit te kom nie. Trouens, soos ek hier skryf, het net ek en Leon-Pierre dit nog op die strand gewaag, vroegaand hierdie keer. En wát ‘n aand: ‘n Hemelse, warm someraand in die Kaap – gekussing tussen dae van stormsterkte wind en ongekende reën. Die strandjie is tjok-en-blok. “Shuck me. Suck me. Eat me raw” doem voor my op toe my kaal voete die wit sand raak. Hemel. Ek is nie preuts nie, maar is dít nie ‘n bietjie erg nie?! Só lui die drukskrif op die t-hemp van ‘n man in een van die talle groepies wat hulself op die strand tuisgemaak het: Hy lyk gedetermineerd om alles uit die lewe – en sy oesters – te suig. Oud en jonk gooi balle en frisbees. Honde hol, blaf en besnuffel mekaar. Kinders gil en jil en deins weg vir die yskoue Atlantiese water. Mense sit met piekniekmandjies en kuier – gesigte na die sakkende son gekeer. Dít is Llandudno – en die Kaap – op sy beste.

Terug by die hier en nou: Ons het oukersaand by ons liewe vriende die De Waals in Tamboerskloof deurgebring. Ons is langer vriende as wat hul eerste kind – Uno – oud is. Kom al sedert 1982 toe ek en Doreen vir Fokus Skakelkonsultante in Bloemfontein gewerk het, dus ‘n goeie 25 jaar. Ons kind, ‘n enigste, is mal oor die oukersaand met al die mense in hulle huis. En hierdie keer was nie anders nie: Doreen, Jade en Olivia het ‘n feesmaal voorberei en gedek, met kersliggies en ivy. Ons peetkind, hulle jongste, weet nou daar is nie meer iets soos kersvader nie, en gevolglik hoef Meyer en die buurman nie meer allerhande ingewikkelde onderhandelinge uit te voer om hierdie illusie in stand te hou nie. Olivia het sommer self die persente uitgedeel, en haar eie groeiende hopie vir laaste gelos. Ons het ‘n spesiale aand op hulle binnestoepie afgesluit met kaas en beskuitjies en die maan wat laag hang as geselskap. Die konsensus van die aand was dat, alhoewel bloed dikker as water is, dit tόg goed is dat mens jou vriende kan kies.

(Terwyl ek skryf, verander die see voor my van bui en kleur. Wakkerwordtyd was dit sonnig en die see helderblou. Hier teen teetyd was die lug bewolk en die see grou. Nou flonker die son op die turkooiswater. Geen wonder die toeriste oorval ons land nie: Ten spyte van die moord, misdaad en die Zuma-oormag bly dit ‘n paradys in Afrika.)

Anton het so pas ons kerskalkoen uit die oond gehaal. Ek en Leon-Pierre ruik-ruik al die laaste uur die lug in agter die geur aan. Anton en Piet, wie gebel het om ons ‘n geseënde kersfees toe te wens, het vanoggend telefonies beraadslaag oor die regte temperatuur en duur van die gaarmaakproses. Ons eet warm kalkoen, koue tong, aartappelslaai met red curry paste en pistachioneute, en oondgeroosterde groente. ‘n Feesmaal. Na ‘n voorlopige proetjie reken Leon-Pierre dis die lekkerste hoender wat hy nog ooit geëet het: Ons kind ken duidelik nie Woolies se self-basting kalkoene vir die krismisseisoen nie – kompleet met ‘n klein termometer wat onder die vel uitspring wanneer die tyd reg is.

Ons dra ons kerstafel uit op die houtdek; gedek met wit damask, ‘n melkwitroos en Rose se Art Nouveau-piouterkershouers. Ons eet terwyl ons uitkyk oor die see, vlak voor ons, wat metterwyl ontstuimig en grys word.

Vanjaar se skrywe gaan egter oor meer as die see en kersfees:

Aan die ernstige kant is my bui hier kort voor kersfees swaarmoedig oor die kind wat by die De Waals se huis in Die Tuine weggeraak het. Die Burger en ander koerante berig ‘n paar dae lank oor die 23-jarige Annette de Klerk wat sonder taal of tyding verdwyn het. Die agtergrond tot die storie is dat Doreen en Meyer haar ouers, wat aan die Rand woon, in Oktober by ‘n Sentraal-reünie in Bloemfontein herontmoet het. Toe hy hoor dat hulle kind op pad Kaap toe is om haar droompos by The Jupiter Drawingroom op te neem, het Meyer, op sy gewone spontane en innemende manier, aangebied dat sy by hulle kan bly tot sy haar voete gevind het. Ten tyde van haar verdwyning het Annette twee maande in die De Waals se gaste-woonstelletjie gebly en het die betrokke naweek hulle huis opgepas terwyl hulle in Johannesburg by ‘n troue was. Toe hulle terugkom, is daar van Annette geen spoor nie: Huis nie gesluit nie, alarm nie gestel nie, en haar handsak, sonder selfoon, lê in die huis. Na ‘n daelange soektog deur polisie en private speurders, kom sy uiteindelik in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad na vore nadat die pasiënt in die bed langsaan haar na aanleiding van die televisieflitse herken. Nou, weke later, is die vier dae wat sy weg was, steeds ‘n misterie en niemand ken die volle verhaal nie. Hierdie moet seker enige ouer se ergste nagmerrie wees en ek voel angs se wurggreep aan my hart. Veral wanneer ek hoor hoe ons kind sy pa aanspreek: Anton is nou “dad” – ‘n 16-jarige seun se manier om te sê “Ek is lief vir jou pa”.

Ons ervaar die Kaap as baie voller (“congested”) en rasiger as vantevore – en duurder. Om van Llandudno na die Waterfront te ry – as jy enigsins lus is om dit te doen – neem minstens 45 minute. Daar gekom – as jy mal genoeg was om dit te doen – kos die parkering jou so veel as R50 vir tussen vier en vyf uur. Dit dring tot ons deur dat hierdie aan uitbuiting grens, ‘n siening wat kort daarna in die Cape Argus se sms-kolom beaam word: “The ridiculous Waterfront parking fee has me supporting my local suburb mall much more. V&A management must explain these exorbitant rates”. Sela.

Vars tuna, waarvoor ons die eerste keer in die Kaap R45 ‘n kilo betaal het, kos voor nuwejaar R135 in Houtbaai. Teen hierdie tempo kan jy net sowel fillet in die Vrystaat koop. (En Anton hét sulke lekker fillet vir ons en die De Waals gemaak op nuwejaarsdag: Sy stadige gaarmaakmetode in die oond, met sy bekende braaisous; hierdie keer het hy ‘n wit braaisous ook gemaak – ‘n kombinasie van wit peperwortelsous, appelasyn en mayonnaise. ‘n Waardige toevoeging tot Anton se kookboek-in-wording, Eiegeregtigheid.) Maar nou het ons geleer dat jy jou vis by Fish 4 Africa in Houtbaai moet koop, níe by Mariner’s Wharf of een van die ander plekke daarnaas nie.

Die tuna is net so duur as die rose wat ons vir ons kerstafel gekoop het. Ons is mal oor die plomp wit rose wat die vrou in haar gebruiklike plekkie voor Giovanni’s in Groenpunt verkoop en ons gooi altyd by haar ‘n draai wanneer ons in April en Desember in die Kaap is. Maar R8 ‘n roos! Bliksem. Hierna moet ons lafenis soek in Giovanni’s self: Hulle hou eksotiese kaas aan wat jy selfs nie by Frankie by Westdene Fruiterers kan kry nie; en die verskeidenheid van koue vleis laat jou mond letterlik water. (Ander moet-weet’s is dat jy pizza by Posticino in Seepunt koop, en brood en ander gebak by Jardine in Breëstraat.)

Daar is ‘n interessante polemiek of twee in die koerante terwyl ons hier vakansie hou. Een hiervan gaan oor rokgroottes onder die opskrif: “When having a fit can be a good thing. There’s so little choice for big girls, they have to shop until they drop a few sizes”. Volgens die berig dra 30% van Suid-Afrikaanse vroue ‘n 16+. In essensie gaan die argument oor die feit dat kleregroottes nie gestandaardiseer is nie en dat die vrou met die voller figuur noodgedwonge soos ‘n ou tannie aantrek – in die nimlike woorde van een van die protagoniste: “Woolies clothes are beginning to look like Pep stores and they love blomme” (ek het hierdie een veral geniet). Die koerant berig “Shopping rage erupts in another torrent of text messages” en die argumente skaar hulself aan twee, natuurlik opponerende, kragte van die skaal: Liggewigte in die een hoek en die swaargewigte in die ander. “To all the stick insects who enjoy criticising those with some flesh, you are so small-minded” vs “… All the flabby ladies who have not looked after yourselves, don’t blame the designers, you should have thought about this when you were younger. Now there’s a big moan. What’s wrong? Husbands looking around? Ag shame.” As deel van die land se 30% is daar niks wat ek tot hierdie debat kan of wíl bydra nie. Ek kan wél byvoeg dat nie slegs vrouens gebukkend gaan onder hierdie kruis nie: Die Hilton Weiner-hemp in Anton se kerskous, grootte XL, pas met gemak vir die 16-jarige Leon-Pierre – maar waarskynlik ook net hierdie jaar.

Terloops, Leon-Pierre maak ons mal op hierdie vlak. Ek weet nie van sy pa nie, maar ek kan sweer ek was nie so modebewus op 16 nie! Na ‘n draai op die strand fluister Leon-Pierre vir my: “Ek het vir pa ge-sê dis fashion suicide om daai plakkies aan te trek”. Hy verwys na sy eie, uitgediende wit Markham-nommers wat Anton by hom moes leen vir die strand. (Anton dra nie kortbroeke nie en besit nie sandale of plakkies nie – nes sy pa, Leon.) Sy vakansietas is groter as myne of Anton s’n, en volgens hom het hulle hom op die lughawe gemaan oor die 25kg wat die tas weeg (hy het van George af Kaap toe gevlieg nadat hy die vakansie by sy peetma afgeskop het).

Eweneens interessant is die berig oor mans wat dit in ondereklerewinkels waag om vir die vrouens in hulle lewe iets (of is dit niets?) aan te skaf. As die vrou van ‘n man wat reeds sy hand aan hierdie uitdagende kooptog gewaag het – weliswaar oor die Internet – en as deel van die voorgemelde 30% van die Suid-Afrikaanse vroulike bevolking, kan ek die leser en enige waagmoedige man meedeel dat hierdie ‘n uiters gevaarlike oefening is. Koop hy te klein, is hy in die moeilikheid. Koop hy te groot, is hy in nét soveel moeilikheid. Praat van Scilla en Charybdis! Die skrywer van die berig wat ek raakgelees het, reken sy vrou sal ‘n nuwe ketel in haar kerskous verkies. Wat my persoonlik betref: Iets anders as ‘n ketel, dankie, alhoewel ek heeltemaal akkoord gaan met haar sentiment.

Die nommerplate hier in die Kaap val my op. Die keuse van nommerplaat-alterego’s prikkel my in die algemeen, maar die WP-variante is nogal erg. Minstens wat mý betref. Durf ek dit sê? Pretensieus. ‘n Gitswart Jeep jaag by ons verby: MoMoney. WP. Meer geld mag hy of sy hê – maar van smaak is daar fokol sprake. (Ek weet, ek weet. Ek is nou op my judgemental beste.) Maar wat kan jy sê van Misty1; Frenchy; Estate1 (hoeveel ander estates hét hy nog?); Jacqui2 en Mr G in sy Cayenne S? En dan is daar die algemene beheptheid met karma. Karma is deel van my meer onlangse wêreldsiening, maar ek sou huiwerig wees om dit sό op my motor se mou te dra: “No karma” blits by my verby. Wat beteken dit? Glo die eienaar nie in karma nie? Of geld dit net kar-karma? En hoe moet ek “My karma” interpreteer wat my oog ‘n dag of twee later vang? En wat van die feit dat albei motors swart, oftewel “the new white” is? Ek laat hierdie vraag aan die universe oor.

‘n Laaste gedagte oor die WP: Die wind. Fok. Dis maar erg. Ek wil nie my laaste dae in die Vrystaat slyt nie, maar vrek weet – daar kan jy nie oor die wind kla nie, behalwe in Augustus. As die wind in die Vrystaat waai, gaan lê hy darem saam met sononder. Maar hier in Llandudno waai die wind ons bui vanjaar in sy moer in: Heeldag. Smaak my amper aldag. Dit gee ons die geleentheid om Die Roodts se Teorie oor die Wind in Bantrybaai op die proef te stel: Wanneer die wind loei om ons plekkie in Llandudno en die palms plattrek in Kampsbaai, ry ons om een van die punte van die Skiereiland na ons veilige hawe van Aprilmaand. En wragtag. Ons hipotese is inderdaad ‘n teorie. Die wind waai nie in Bantrybaai nie. Dalk is dit tóg die plek in die Kaap om ons pensioengeld te investeer? (Bloot ‘n hipotetiese vraag, natuurlik.)

Ons is dus selfs meer dankbaar as gewoonlik vir die windstil aande wat ons toelaat om sononder vanjaar op die strand te beleef (ja, ons het gelukkig weer op die strand uitgekom, hierdie keer as ‘n voltal drietal). Op oujaar skuif ons ons net voor agt reg om die son in sy laaste glorie oor die Atlantiese Oseaan te ervaar en sluit só – toepaslik – ons jaar af.

Desember 2007

Click here to download