Vrystaters by die See lll

Llandudno,

My persoonlike hoogtepunt van hierdie seevakansie was my eerste kennismaking met ‘n waterponie : Ek ervaar hierdie lekker speelding van De Villiers in Gordonsbaai toe ons by hom en Reynette in hulle marinahuis kuier. Div moet met die boot in die hawe voortpuf tot daar waar die water in die see uitmond, en dan eers kan hy vetgee. Ons kind vat die eerste draai op die waterponie en hy is nie so geduldig soos Div nie; hy skiet agter die boot uit en vat die joepelsee – wag nie eers tot hy verby die bakens is nie. Hy ignoreer my eers wanneer ek hom na ‘n ruk naderwink sodat ek kan oorklim, maar na nog ‘n paar draaie kom hy gelate na die boot aangery. (Hy het heelwat meer selfvertroue as toe hy verlede jaar vir die eerste keer hier by hulle op die waterponie gery het.) Die dein van die golwe op die oop see maak dit nogal moeilik om van die boot se trap wat in die water rus oor te klim op die waterponie, maar ek kry dit reg sonder om in die water te beland (met die terugklimslag later is ek nie so gelukkig nie en die enorme bloukol aan die sagte kant van my arm word na twee weke eers geel voor dit mettertyd vervaag). Nadat ek my sit kry, draai ek die regterhandvatsel versigtig oop en skiet vorentoe – oeps! Nie versigtig genoeg nie. Maar kort voor lank kry ek die slag en ek draai die petrol oop. My kuif waai in my oë en die seesproei deurweek my gesig en koel my lyf af wat al klaar die sonnetjie se byt voel. Die volgende oomblik blits ‘n bruingebrande outjie by my verby en ek sien hoe hy dit doen: Hy ry met die skuinste van die golfies wat aangerol kom en ek swaai om en doen hom dit na. Dis baie lekkerder, want nou wip ek nie so meer ongemaklik nie; ek gly eerder oor die golwe. Ek gee spoed en gou-gou is die boot ver agter my. Wanneer ek omdraai en terugkom, konsentreer ek nog te hard om te besef dat hierdie vir my lekker is – en Reynette roep van die boot se kant af: “Smile Zar – smile!”. Ek lag dan onbevange en dit is híerdie glimlag wat Anton op die kamera vaslê:

vrystaters-by-die-see-3

So moet ‘n seevakansie mos lyk.

My ander hoogtepunt is natuurlik die kersaand wat ons oudergewoonte by die De Waals deurbring. Ons het ‘n jaar of twee gemis wanneer Meyer en Doreen en die kinders oorsee was, maar gelukkig het Doreen al in November ‘n vonkpos gestuur om te hoor of ons by hulle aansluit. Doreen en Jade en Olivia, ons peetkind, dek altyd die mooiste mooiste tafel. Dori hou gewoonlik die eetkamerdeur toe tot sy en die meisiekinders of Meyer ingaan om die kerse aan te steek, en dan begroet die verrassing van die hoë peuterkersstaanders wat sy al die pad van Argentinië af saamgebring het ons. Natuurlik is daar blomme – eenvoudig, in die lang glashouers tussen die kersstaanders. Die tafeldoek is swart en dramaties; die servette is van lap en swart hartjies hang drie-drie en vier-vier van die lip van die kershouers na onder; daar is fairy lights, en silwer klappers by elke plek. Die hele tafel lééf soos die kerslig flonker en die ander liggies in die wynglase reflekteer. Hoe die kerstafel lyk en die hele atmosfeer van die De Waals se huis is vir my meer belangrik as die kos wat voorgesit word, maar weer eens het Doreen en Jade hulself oortref: Hierdie jaar het Doreen geëksperimenteer met klein, heel hoenders wat sy in ‘n groot pan gaargemaak het – dit lyk fantasties en smaak ook so. Ek het vergeet om te noem dat Olivia die geskenke uitdeel: Vandat sy uitgevind het daar is nie ‘n kersvader nie, het sy hierdie rol oorgeneem en sy doen dit haastig en effektief. Haar eie geskenke stapel sy op mekaar tot sy almal s’n uitgedeel het, en dan gaan sit sy behaaglik plat op die grond met haar bene onder haar ingevou en takel haar hopie.

Wat nét so lekker was, is toe Michaela vir ons kom kuier het. Michaela is vyf en bly op Grootbrakrivier, en ek en sy het dadelik ‘n verbintenis gevorm toe ons mekaar ontmoet het. Sy is klein vir haar ouderdom en fyn gebou. Sy is neutbruin en het warm bruin ogies waarvan die een effens-effens skeef is – soos Karen Black s’n, die aktrise wat jare gelede in Airport gespeel het – en dit dra nog verder by tot haar eiesoortige aantreklikheid. Sy kuier al weke lank by haar tannie, “ouma Unzi”, op Melkbosstrand en die son het ligte strepe in haar bruin hare gebrand. Toe sy die oggend by my in die motor oorklim wanneer ek haar by die Waterfront gaan oplaai, is haar wenkbroue rooibruin ingekleur en haar lippies is helderpienk.vrystaters-by-die-see-3- Nadat sy haar armpies styf om my nek geslaan het, sê ek vir haar ek hou van haar grimering. Haar antwoord is “Ek hou nie daarvan om elke dag soos my te lyk nie”. Watter insig vir ‘n vyfjarige, Michaela: Ek dink baie van ons word moeg om dieselfde gesig in die spieël te sien. Ons gaan laai vir Olivia op vir ‘n girls’ lunch by ‘n nuwe restaurant in Kampsbaai, The Cove; die interieur is oorwegend wit en dit staan my baie aan. Olyf se oë rek toe sy die pryse sien en die liewe ding wil die goedkoopste item onder die ligte maaltye bestel; sy lyk sigbaar verlig toe ek sê nee wat, ek dink ons moet elkeen ‘n burger bestel, met verskillende souse sodat ons by mekaar kan proe. Ek het vir Anton gesê Michaela eet soos ‘n voëltjie – maar sy weet presies wat sy wil eet en haar bord kom leeg. Michaela bly by haar ma, Heide en sien haar pa Michael, wat in die Kaap woon, per geleentheid. Sy is baie baie sku vir my manne en loer onder haar digte wimpers vir Leon-Pierre. Vir Anton kyk sy nie eers nie. Maar sy word vroeg die volgende oggend wakker en Anton is eerste op omdat hy vir ons vrugteslaai vir ontbyt maak wat ons op die houtdek by die Llandudno-huis eet as die wind ons genadig is; sy werk aan die legkaart wat ouma Unzi gepak het en ontdooi mettertyd – ek hoor hoe Anton haar vra of hy haar kan help en na ‘n ruk klink haar stemmetjie op. Sy praat met hom. Sy het nie kans gesien vir ‘n tweede aand se oorslaap by ons nie en nadat ons vir haar klippies gaan uitsoek het by RockChic in Houtbaai – een van die “treats” wat ek beplan het – vat ons die Weskuspad terug na haar tuiste hier in die Kaap.

En dan móét ek vertel van my ervaring by Terenzo in Seepunt. Retha (Snyman), na aanleiding van haar jarelange betrokkenheid by die Mej SA-wedstryd, is ‘n goudmyn van inligting en kontakte; sy verwys my na Mitzi by hierdie eksklusiewe salon en dis waar ek oukersmiddag my hare gaan laat mooimaak. Ek hardloop amper weg toe ek die deur oopstoot: My nerwe is in hierdie stadium van die vakansie reeds dun en die geroesemoes daar binne voel soos ‘n aanslag op my sintuie. En die botoon word gevoer deur die aaklige, kommersiële kersmusiek wat elke winkeleienaar en –sentrum genoop voel om te speel. Verbeel ek my of word die kitsch kersversierings elke jaar vroeër opgehang en word die musiek elke jaar harder? Ek dink aan die woorde wat ek in November 2007 in my frustrasie hieroor neergepen het: “Weerbarstige woede stoot in my op wanneer ek in winkel na winkel die goedkoop, die plastiek en die tinsel sien waarmee ‘n materialistiese kersfees voortydig aan ons opgedis word.” Mitzi eien seker die emosie op my gesig, of dalk is sy ook ‘n introvert, want sy wink my na die “Whisper Room” met die versoek dat ek my selfoon moet afskakel. En wat ‘n hawe is hierdie nie te midde van die kerskoors nie: Die vertrek is klankdig en daar is ‘n paar beddens voor die wasbakke uitgestrek. Mitzi sê ek moet my sandale uittrek en gaan lê, en wil weet of ek die komplimentêre massering vir my hande of my voete wil hê. Natuurlik my voete – soos Anton teen hierdie tyd goed weet, is dit die mees sensitiewe deel van my lyf. Wat ‘n hemelse paar minute: ‘n Swart vrou kom sit met ‘n skaam glimlag aan die onderpunt van die bed; sy vee my kaal voete met ‘n vuurwarm nat, growwe handdoekie af en vryf hulle in met ‘n heerlike dik, wit room op die juiste moment wanneer Mitzi die welriekende haaropknapper mildelik en staaaadig in my kopvel invroetel. Later, toe ek betaal, vind ek uit dat daar – natuurlik – niks komplimentêr was omtrent die massering nie omdat die Terenzo “blow-wave” meer as dubbel soveel kos as by die duurste plek in Bloemfontein. Maar wat de hel. Dis net een keer ‘n jaar kersfees en dit is presies wat ek nodig het om my simpatiese stelsel tot bedaring te bring en my in die regte luim te plaas vir ‘n kersmaal by dierbare vriende.

In teenstelling met kersfees, het ons oujaar vanjaar heel anders daar uitgesien as gewoonlik: In die dae wat ons in Wanda se huis in Stellenbosch vakansie gehou het, het Anton begin om vir ons ‘n seekosbord te maak vir oujaarsdagaand nadat die restaurantpryse vir 1999 se oujaar handuit geruk het – R1 000 ‘n kop by Blues in Kampsbaai. Maar hierdie oujaar kuier daar drie pelle by Leon-Pierre en ons besef ons moet aan ‘n ander spyskaart dink. Omdat ek ‘n luigat is wanneer dit by kosmaak kom, stel ek hamburgers voor, saam met Anton se fantastiese tjips waarvan hy die resep proefondervindelik vervolmaak het. Herman kuier ‘n paar dae by ons, en Duan se ma ry hom van Seepunt af aan; Massimo – “Massie”, Sentraal se stylikon – se stiefpa bring hom uit die Paarl. Duan bring ‘n bottel Pongraçz saam wat hulle glo die aand op die strand wil drink en ek wonder of hulle weet hoe hierdie Methode Champenoise smaak. (Vir my dertigste verjaardag het my destydse kliënt Mike Gregory van Halevy House Hotel vir my ‘n bottel egte Franse sjampanje gegee wat ek by die proe daarvan in die wasbak afgegooi het omdat die gisserige smaak my laat dink het dit is “af”; eers jare later, by die Bloemfonteinse Wynproegilde, het ek uitgevind dis hoe regte sjampanje smaak.) Ek moet byvoeg dat hierdie drie tieners – nee, ek moet onthou hulle is ampermanne soos Duan se baard wys – wil Sandy Bay toe gaan. Met laas jaar se kuier al het Herman en Leon-Pierre gedreig om te gaan, maar dit het by dreig gebly. Toe hulle die oggend staan en skottelgoed was voor Duan en Massimo aankom, spekuleer Leon-Pierre en Herman vir die soveelste keer oor wat hulle by Sandy Bay te wagte kan wees. Leon-Pierre reken hy gaan nie vir “Piet” daar uithaal nie; maar dan haal Herman vir Leon-Pierre uit toe hy flink reageer: “Jy bedoel seker Pietie”. Maar daar is geen Piet of Pietie uitgehaal by Sandy Bay nie; sedert Coenie se Sandy Bay Blues-dae het hierdie strandjie ‘n uithangplek vir gay manne geword. Maar terug na ons oujaarsete: Die vier het só onder die hamburgers ingeklim dat ek en Anton uiteindelik met ‘n halwe een elk – sonder tjips – tevrede moes wees. En dan is my man nog so ordentlik dat hy wil hê ek moet die hele hamburger eet, hy sal vir homself iets anders maak.

vrystaters-by-die-see-3--Dis nie toevallig dat Leon-Pierre se gesig weggedraai is nie; sy pa en die kamera stel hom in die verleentheid.

Ons het hierdie vakansie so min as moontlik gedoen – en het probeer om net “te wees” by hierdie plek met sy uitsonderlike uitsig oor die Atlantiese oseaan. Anton het baie geskryf – ja, Anton. Ek het my hand nie een keer aan die toetse geslaan nie en die resultaat is ‘n vol stel lang, rooirooi naels – vakansienaels, noem my geliefde hulle, wel wetend dat ek hulle weer binnekort stomp gaan afsny sodat hulle lekker vinnig oor my rekenaar se toetsbord kan beweeg. Verder het Anton ure lank spandeer met sy neus in die boek wat hy vir kersfees by die De Waals gekry het: The Best Music You’ve Never Heard. Ek weet nie hoe sy selfoonrekening gaan lyk nie, want hy het nét so lank spandeer om op die Internet te luister na die (enkele) kunstenaars of werk waarvan hy nog nie gehoor het nie. Ek dink nie ek het Anton al ooit so ontspanne gesien op ‘n vakansie nie. Hy het selfs sy skoene uitgetrek – iets wat hy, soos PaLeon, net voor bedtyd doen (hy is nie verniet skoenmal nie en het weer drie pragpare in die Kaap aangeskaf: Kurt Geiger, Paul Smith en C² van Carducci; ons moet seker een van die min egpare wees waar die man meer skoene as die vrou het). Ek het die Havanas-plakkies aangery wat Leon-Pierre verlede jaar by die De Waals gekry het vir kersfees, en Anton het op hulle beslag gelê.

vrystaters-by-die-see-3---
Ons het ‘n paar keer heerlik gekuier: By De Villiers en Reynette, en hulle weer by ons – op hulle gebruiklike ruimhartige aard bring hulle twee pers bokse vol van die heerlikste heerlikste fyngebak wat hulle dogter Anso gemaak het; sy is ‘n pastry chef by Cassis in Kaapstad. Wanda, en Kobus wat uit Bloemfontein kuier, het kom eet; Analou, by wie ek in Southfields in Londen gebly het toe ek in Julie 2008 Engeland en Griekeland toe is, het saam met haar man Stephan kom kuier en ek het die bottel Moët oopgemaak wat Johann en Lydie my vir my 50ste gegee het en wat ek al die pad saamgery het vir die geleentheid. Analou is ‘n “bubbles girl”, soos Wanda dit stel, en ek wou hiermee weer my waardering wys vir haar onvoorwaardelike hulp toe ek in Londen by hulle oorgebly het.

vrystaters-by-die-see-3----

vrystaters-by-die-see-3----Die fotograaf in die spieël is natuurlik Anton, en dis Wanda se gazpacho wat op ons wag.

Die kuiery het natuurlik skottelgoed by die dosyne meegebring en ons enigste is teen sy sin hiervoor ingespan. In ‘n ligter oomblik het hy vir ons poseer met my groen plastiekhandskoene (wat aangekoop is om die “vakansienaels” te beskerm). Omdat ek weet hy gaan ‘n oorval kry as hy sien dat ek die foto vir ander mense wys, kompenseer ek byvoorbaat deur een van die steelskote by te voeg wat sy pa van hom geneem het.

My – enigste – slegte ervaring in hierdie lang, uitgerekte, vyfweeklange vakansie was toe ek oudergewoonte by The Bay Hotel in Kampsbaai gaan sit. Oor die jare, veral wanneer ons in Aprilmaand in Bantrybaai is, het die klein restaurantjie by die hotel, met sy houtdek wat oor die plaspoel en verder oor Kampsbaai se ongeëwenaarde uitsig kyk, ‘n geliefkoosde plek geword waar ek op Vrydae gaan sit en aan my joernaal werk of sommer net lees. Anton en Leon-Pierre laai my een Vrydagoggend daar af met my rekenaar en hulle ry na Woodstock om na Kentridge se uitstalling te gaan kyk. Ek sit kruisbeen op ‘n bank onder ‘n groot sambreel met my rekenaar op die skoot. Dis ‘n fantastiese dag. Windloos. Maar dan stap ‘n netjiese mannetjie met ‘n blou hemp na die drie mans wat hulle by die plaspoel tuisgemaak het en kort daarna die sambrele en houtlêstoele begin rondskuif het na hulle smaak: Hy is baie hoflik en verduidelik dat die hotel se gaste kla oor ander mense wat daar kom lê sodat daar uiteindelik vir hulle geen plek is nie. Dis seker nie nodig om by te voeg dat die hotelgaste almal van die buiteland is, en dat die “ander mense” Suid-Afrikaners is. Hierdie insident voorspel niks goeds vir my nie, ten spyte daarvan dat ek nie met ‘n kostuum daar sit nie en glad nie van plan is om te swem nie – dat ek bloot by die restaurant sit en koffie drink tot ek later daar middagete eet soos ek altyd doen. En toe ek oudergewoonte ‘n glas Backsberg chardonnay bestel, is dit ook so: Die kelner is vreeslik verskonend, en vra of ek by die hotel se restaurant wat teenaan die allerbesigste straatvlak lê ‘n tafel wil hê, want die bestuur het daardie oggend besluit om voet neer te sit. Hierdie klein restaurantjie, verder terug as die een op die straatvlak, wat ek altyd as een van die Kaap se bes-bewaarde geheime beskou het, is jou nie meer beskore indien jy nie in die hotel bly nie. En teen ongeveer R4 000 per persoon per nag is daar nie meer baie van ons wat daar kan oorslaap nie.

Maar daar is skuiling by die Llandudno-huis , en die seevakansie is nog nie verby nie … en dan lê daar nog ‘n paar heerlike kuierdae voor saam met Wanda in haar huis in die Pappegaaiberg se skaduwee. Ons is bevoorreg.

vrystaters-by-die-see-3

Die uitsig vanaf “ons” stoep.

Desember 2008.