Vrystaters by die see iv

vrystaters-by-die-see-4

Vanjaar se see-vakansie by Llandudno was ook die vakansie van blomme. Dit het alles begin by die blomme wat Antonius vir ons kerstafel bestel het. In ons huis is die blomme mý afdeling, maar om een of ander rede het hy so sterk daaroor
gevoel dat hy reeds uit Bloemfontein gebel het om blomme te bestel by die snipperige bloemis in Houtbaai. Haar plek se naam is Wild Affair Flowers. Ons kyk altyd na haar kreatiewe skeppings in die venster, maar sy het nogal ‘n intimiderende teenwoordigheid en wanneer jy by haar navraag doen oor vars blomme, laat sy jou gou verstaan dat jy ‘n bestelling moes geplaas het. Hierdie vakansie maak Anton toe so: Hy bestel.

vrystaters-by-die-see-4-

En ons adventkrans lyk só.

En soos die vakansiesalige dae verbyrol, só word die rooi rose donkerpers en swart tot hulle heeltemaal verdor. En ek rek die adventkrans se lewe, soos ons altyd met die vakansietyd wil doen, deur hibiskusblomme tussen die groen loof in te druk.

vrystaters-by-die-see-4--

En een van die meer onbesonne vakansie-aankope van my lewe bring blomme en nog blomme, en groot plesier – en word ‘n stukkie van onsself in die huis wat ons nou al vier jaar op Llandudno huur.

vrystaters-by-die-see-4-blommevrystaters-by-die-see-4-blomme

 

Ek het hierdie beautiful pot by die Gardens Sentrum in Kaapstad raakgeloop en gekoop met die verjaardaggeld wat ek en Anton laas jaar by MaElise gekry het. Dis handgemaak en ingevoer, en staan sy plek vol in die kattebak toe ons terugry huis toe. En nou staan die pot op die buffet in ons eetkamer, en lyk of dit nog altyd daar was.

Ek het hierdie vakansie ‘n paar bottels rosé kaf gedraf om nog blompotte bymekaar te maak, en hier staan hulle saam met die leë Pongracz Desiderius wat ons verlede jaar gedrink het toe Analou en Stephan by ons kom eet het voor hulle teruggevlieg het Londen toe.

 

vrystaters-by-die-see-4-blomme--

Een van my grootste kommernisse wanneer ons so lank van die huis af weg is, is die Icebergs wat agterbly – veral dié in die voortuin wat toenemend swaar kry in die kruipende skaduvingers wat die munisipaliteit se bome op die sypaadjie gooi. Daarom skrik ek toe ek laat in Desember ‘n please call me kry van Emmanuel, ons tuinman. Groot is my verrassing dus toe hy bloot bel om te rapporteer dat die rose goed lyk en dat ek my nie hoef te bekommer nie. Ek was skoon tranerig oor hierdie stuk bedagsaamheid van hom.

Ek sluit my blommetema af met Leelawadee, die plek waar ek my eerste Thaimassering ervaar het. In ons taal beteken die naam “frangipani”, maar ‘n Afrikaanse ertaling is die heel mooiste: Tempelblom. Te midde van die oormaat van sensoriese stimulasie haas ek my in hierdie Desembervakansie na die plek van die tempelblom.

Met die intrapslag by Leelawadee hang daar so ‘n snaakse reuk in die lug. Ek kan dit nie eien nie en moet dit toeskryf aan die masseermiddel wat hulle hier gebruik. Dit lyk nie of die mense hier Engels magtig is nie, maar hulle praat wel die universele taal, sien ek gou: Visa welcome here.

Die jong vrou wat my nader wink, is klein en haar gesig is stil. Sy lei my die trappe op en by ‘n vertrek in, en beduie na ‘n broek en bostuk wat baie lyk soos die tai chi klere wat ek in Groenpunt gekoop het. Vir ‘n oomblik is ek benoud dat ek nie in die klere gaan inpas nie, maar dan glip die broek oor my bobene en gaan sit knap om
my maag en heupe. Sy lei my na nog ‘n vertrek waar ‘n klompie matjies op die vloer uitgestrek lê, elkeen met ‘n eienaardige kussing aan die onderpunt. (Later besef ek die kussing is vir haar bedoel en nie vir my nie – sy kniel daarop terwyl haar hande my rek en strek; dan kruip sy op my rug en plant haar knieë in my laerug sodat sy my nek kan bykom en my elmoë klappend agter my kop indwing. Dis op hierdie punt wat ek besef ‘n Thai-massering is ‘n “droeë” massering, en ek wonder oor die knaende reuk wat hom aan my neus opdring.)

Ek smag na ‘n sinvolle, selfs spirituele ervaring hier, en toe ek uitstrek op die matjie op die vloer, raak ek bewus van die trappe in die ou huis wat kraak, die dakplate wat uitsit in die hitte, en die duiwe wat koer en krabbel bokant my kop. Erens hoor ek die geluid van kinders wat lag en my oë gly deernisvol oor die klein fototjies (van hulle?) wat hier en daar staangemaak is tussen die beeltenisse van godinne en ander aanduidings van ‘n klein huistempel. Maar alte gou hoor ek hoe ‘n man steunend en luidkeels by die krakende trappe opbeur. Hy is soos die spreekwoordelik bul, met geen aanvoeling vir die porseleinstilte waarin hy hom begeef nie. Uit die toilet hoor ek twee benoude poepe en ek sug uit diepgesetelde gatvolgeit. Ek weet uit ondervinding dat my uiterlike omgewing bloot reflekteer wat in my binneste aan die
gang is: Hier gaan ek nie rus kry nie.

Later lees ek oor die tradisionele Thai-massering:

Thai Massage is an extraordinary method of aligning the energies of the body, and originates from India during
the time of the Buddha.

It uses passive stretching and gentle pressure along energy lines and looks very much like a cross between shiastu, acupressure, and yoga. Pressure is applied along meridian lines using thumbs, hands, and feet to stimulate the movement of energy in the body. You are also moved and stretched in Yoga-like poses to free muscular and joint tension. It improves flexibility, reduces tension, stimulates internal organs, and balances the
body’s energy system.

Thai massage is a floor massage, where the client lies fully dressed on a pad or light mattress. Every movement is designed to support you as well as the therapist. Because it is classified as a meditative practice, you are left
feeling relaxed and energized at the end of your treatment.

vrystaters-by-die-see-4---Ons kind het weer oudergewoonte gesorg vir ‘n paar eiesoortige oomblikke hierdie vakansie. Hy en sy pa sit en werk om die eetkamertafel nadat Anton hom ‘n bietjie in die fynere kunsies van waterverf begin inlei het.

Leon-Pierre reken hulle is besig met ‘n “vriendelike klein pa-en-seun kompetisie”, en hy is gemaklik met sy tekenvermoë. Maar dit frustreer hom wanneer Anton lang hale met die waterverfkwas maak oor sy eie tekening: “Jy sien – dit – so vee oor die lyne – dis vir my te roekeloos”. Dis eie aan ons lieflingkind se proses: Hy waag nie graag nie.

Ons is baie dankbaar dat die moeilike standerd 9-jaar agter ons lê, en daar was tye dat ek my hart vasgehou het, glo my. Anton en Leon-Pierre praat bietjie oor sy punte toe die rapport per epos aanland, en spesifiek oor hoe hy sy punte in die matriekjaar kan opstoot. Leon-Pierre is nie baie positief nie, en Anton vra: “Wat van harder werk?”. Leon-Pierre reageer blitsvinnig: “Dis maklik vir jou om te praat pa, want jy’s ingestel op harde werk”. Inderdaad. En dis hoekom ons hierdie jaar vir vyf weke by die see vakansie hou. Dit neem mens per slot van sake twee weke om af te skakel, soos ek hierdie jaar maar net weer ervaar.

vrystaters-by-die-see-leon-cherise
Leon-Pierre het nou ‘n meisie – Cherise.

Lyk my hy het die knoop deurgehaak toe hy vroeg in die vakansie vir ‘n dag of twee by haar gaan kuier het waar haar ma in Durbanville bly. En hier, soos in vele ander opsigte, is sy pa vir hom die beste voorbeeld van hoe om dinge te doen: Ek hoor Leon-Pierre noem haar ook “skat”.

Leon-Pierre is net so mal oor musiek soos sy pa. Anton speel Baby’s Romance van Chris Garneau (totaal onbekend vir my), en ek hoor hoe Leon-Pierre sê: “Ek is so bang mens verloor dié song in the pages of time”.

Een van my slegste slegste oomblikke in die bladsye van hierdie vakansie was ‘n moment by Woolworths by die Waterfront: ‘n Vrou kom van voor af aangestap en die kleintjie wat sy op haar heup dra, vang my oog: Hy is erg gestrem, kan mens dadelik sien – fisies, maar ook verstandelik. In daardie oomblik is ek vervul met intense dankbaarheid vir my eie heel kind. Maar die oomblik wat aan my hart ruk, is toe die vrou terug kyk en ek sien die nannie agter haar wat die tweelingboetie in ‘n waentjie stoot: Hy is identies in elke opsig, ook in sy gestremdheid.

En amper net so sleg … toe Edma tydens ons vroegoggendstap langs die Promenade by Seepunt die plek uitwys waar Ingrid Jonker 45 jaar gelede die see ingeloop het by Drieankerbaai. Hierdie vrou het ‘n sonderlinge plek in my eie lewe ingeneem toe ek een aand in Johannesburg ‘n Aha-ervaring gehad het terwyl ek ‘n biografie oor haar sit en lees: Haar digwerk was haar terapie. En hierdie voor-diehandliggende insig was die inspirasie vir my besluit om my skripsie oor die terapeutiese waarde van skryfwerk te doen. Die prentjie van Ingrid Jonker wat my deurentyd bybly is een wat uitgebeeld is tydens die verhoogopvoering Altyd Jonker (2008) waar die aktrise Nicola Hanekom haar kop herhaaldelik en sistematies teen die muur stamp stamp stamp. Ek het empatiese pyn tot in my diepste wese ervaar en sit en snik in die donker teater.

Daar was vele ligpunte die vakansie, ten spyte van teleurstellings soos dat ons nie soos gewoonlik oukersaand saam met die liewe De Waals kon deurbring nie (hulle is hierdie jaar net voor Meyer se 50ste op 20 Desember Hermanus toe vir ‘n viering daar wat ons nie kon bywoon nie omdat my ma ook op 20 Desember verjaar en dit hierdie jaar in die Kaap gevier het).

Daar was die dolfyne op kersdag. Anton roep my en na ‘n rukkie sien ek ook hoe hulle sierlik agter die deining van die golwe swiep en duik. Wát ‘n geskenk. Die dolfyn as simbool het vir my persoonlike betekenis begin ontwikkel nadat ek verlede jaar Lynn Andrews se boek Writing Spirit (2006) by Bibliophile op Clarens raakgeloop het (ek is soontoe vir ‘n sessie van wat blykbaar bekend staan as binge writing). Sy verwys na die skrywer se writing power animal – “a symbolic description of your inner nature as a creative person”. Sy stel ook ‘n indeling van dierekategorieë vir skrywers voor, en ek eien myself as iemand wat inpas in die kategorie vir walvisse en dolfyne: “… quiet explorers of the unconscious and psychological world … dolphin people often write … deep psychological or emotional explorations into unknown worlds, worlds that are hidden from normal view and are difficult to describe …”.

Om hierdie stuk insig te integreer, het ek vir my ‘n klein dolfyntjie gekoop vir die geluksarmband wat Anton my ‘n paar jaar gelede vir ons huweliksherdenking gegee het.

vrystaters-by-die-see-4-jewellery

‘n Verdere ligpunt, vir my, is die bankie by die see by Llandudno. As jy ‘n plekkie by die see het, moet jy ‘n bankie by die see hê. Soos hierdie een: Een waar jy oor die see kan tuur en kan mediteer (as jy gelukkig genoeg is om kontak met jou innerlike te maak – iets wat my steeds ontwyk).

vrystaters-by-die-see-4----

Hierdie bankie by die see word slegs geëwenaar deur my sitplekkie op “ons” stoep:

vrystaters-by-die-see-4-----

Nog ‘n hoogtepunt van hierdie lekker lang Desembervakansie was die fliek Departures:

departures

Academy Award® Winner: Best Foreign Language Film

****”Director Yojiro Takita and his casting director, Takefumi Yoshikawa, have surpassed themselves. In a film with four principal roles, they’ve found actors whose faces, so very human, embody what Departures wants to say about them… The music is lush and sentimental in a subdued way, the cinematography is perfectly framed and evocative, and the movie is uncommonly absorbing. There is a scene of discovery toward the end with tremendous emotional impact. You can’t say it wasn’t prepared for, but it comes as a devastating surprise, a poetic resolution.”

– Roger Ebert, Chicago Sun-Times

“It’s a deeply touching movie exploring an incredible range of emotions. Unforgettable.”

A story of love, of discovery, of revelation and of the transcending human spirit, “Departures” will linger in your heart and mind long after viewing.

En dis waar. Dit het. Trouens, tonele flits steeds deur my kop. Naas Antonia’s Line dink ek dit is my beste fliek ooit.

vrystaters-by-die-see-4------My kersversierings hierdie jaar was vir my ‘n persoonlike triomf. En alhoewel ek met groot ambivalensie sit rondom die idee van “kersfees” was dit nog altyd vir my ‘n uitdaging om iets moois op hierdie vlak te doen. Ek het altyd goeie voornemens wat mettertyd verskiet in die aangesig van ‘n duisternis moontlikhede sodat ek lamgelê
word deur my voortdurende strewe om die regte ding te doen. Maar nie vanjaar nie. Ek het selfs die perfekte feëtjieliggies op Stellenbosch raakgeloop. En ek het elkeen van die glasbelle teruggery Inneslaan toe – hulle was net té mooi om te los.

vrystaters-by-die-see-4-------Nóg ‘n groot lekkerte was die eerste ontmoeting met my kleinniggie – is dit hoe mens jou oom se seun se dogter noem? Ek is mal oor kinders, en dogtertjies veral gee my oneindige plesier. En Daniella is geen uitsondering nie. Sy het ‘n bos swart hare en haar pa en haar oupa se groot oë en lang wimpers.

Danksy haar ma Diani lyk sy glad nie soos die ander blonde Smit-kleinkinders nie, waarvan die pop op my arm hieronder na my vernoem is.

vrystaters-by-die-see-4--------

Anton het ons oudergewoonte trakteer op die een fantastiese ete na die ander (dat ek nie ‘n ons gewig opgetel het nie, was vir my verstommend). Ons huisbaas, Roger, het dit goed gedink om die Weber op ons dek te vervang met ‘n gasbraaier wat hy onder ‘n oorhang staan gemaak het. Maar hy verstaan nie: Anton is mal oor braai. Trouens, Anton sê altyd hoe braai hy onder alle (weers-)omstandighede. So ry ons dus al die pad na Canal Walk – ‘n plek wat ons normaalweg soos die pes sal vermy – om ‘n klein braaier by Game te gaan koop.

Soos gewoonlik, kon ek en Anton ons nie uit die Kaap wegskeur nie, en ons het behoorlik ‘n Kaapse draai huis toe gemaak: Ons is eers by Greyton langs. Die plek het nog altyd vir my ‘n bekoring ingehou, al was ek nog nooit daar nie. En die kere wat ek op retraite by Temenos op McGregor was, hunker ek om Greyton te sien – maar die Olifantberg lê tussen McGregor en Greyton. En, soos so dikwels vantevore in my lewe, word Hollis se voorspelling ook op hierdie uitstappie waar: “It’s not about what it’s about”; want alhoewel Greyton prentjiemooi is, is die eintlike
verrassing Genadendal daarnaas wat op Anton se agenda was. Genadendal is ‘n sendingstasie in die kleurlingemeenskap waarvan die gebouekompleks nog tot ‘n groot mate oorspronklik is. Terwyl Anton foto na foto neem, dwaal ek rond en steek ook naderhand my kop by die klein kerkie in waarin hy verdwyn het. Vrede straal uit elke hoekie en bank. Hier kan jou siel kalm word.

En plek maak vir dankbaarheid: Oor Desembervakansies. Oor alles in jou lewe wat goed en mooi is.
vrystaters-by-die-see-4-des-vakansie