Vrouekeur – 2 May 2014

ken jou storie

Kies ‘n BOEK

Willie Burger kyk hierdie week na twee vroue se uiteenlopende reise

Wie is ek? Hierdie vraag word deur twee vroue uit radikaal uiteenlopende omstandighede gevra. Fatima se Ek’s g’n Slams. ‘n Moslemvrou vertel (Lapa) en Zarine Roodt se Enkelreis (hemel & see boeke) verskil radikaal van mekaar, omdat die agtergronde van die twee vroue hemelsbreed verskil.

Albei vroue soek na ‘n antwoord op die sentrale vraag oor wie hulle is. Zarine Roodt ondersoek die vraag as ‘n bevoorregte individu, as iemand wat byna onbewus van haar eie kulturele omstandighede, die vryheid en luukse het om reise te onderneem (waarin sy deur haar gesin en familie en vriende ondersteun word). Fatima wil dieselfde vraag beantwoord, maar word in haar soektog geheel en al deur haar gesin, haar gemeenskap, haar kultuur en haar godsdiens bepaal. Sy het nie die luukse om op reis te gaan en van “buite” na haarself te kyk nie.

Vir nie een van die twee is daar maklike antwoorde nie. In albei se lewe speel ‘n soort spirituele ervaring ‘n sentrale rol en albei vind baat by die neerskryf van hul ervarings.

Roodt verel hoedat sy as suksesvolle sakevrou, as iemand oor wie daar in saketydskrifte geskryf is, en wat boonop ‘n ma en gelukkig getroude vrou is, besef het dat sy nodig het om haarself te vind, régtig te vind. Enkelreis vertel die verhaal van hoe sy, soos so baie van ons, in haar middeljare skielik besef dat sy, ten spyte van sukses, nie regtig meer weet wie sy eintlik is en wat sy wil wees nie.

Vir haar word die soektog, soos die titel aandui, ‘n hoogs persoonlike reis – in die spoor van Jung se idee van ‘n individuasieproses. Baie lesers wat Eat, Pray, Love (2006) deur Elizabeth Gilbert gelees het (of die fliek met Julia Roberts in die hoofrol gesien het) sal iets hiervan in Roodt se boek herken. Gilbert vertel in haar boek hoe sy na drie lande gereis het om eers kos (liggaamlike genieting) in Italië te ontdek en daarna geloof in Indië te ondersoek voordat sy in Indonesië verlief raak en uiteindelik, na al hierdie ervarings, ná haar egskeiding, genesing vind.

Roodt se memoire volg ‘n soortgelyke patroon: Sy vertek eers na Engeland, waar sy verskeie labirinte besoek. Daarna besoek sy ‘n Griekse eiland voordat sy uiteindelik (weer op ‘n eiland) ‘n kursus in skryfterapie volg en ‘n “heel” vrou word.

FATIMA SE VERHAAL VOLG …