Volksblad 3 February 2014

Volksblad_3_Feb_2014

ZARINE ROODT was voor 2000 een van die bekendste sakemense in Bloemfontein. Sy was die eienaar van die eerste skakelonderneming in dié stad, president van die nasionale skakelinstituut Prisa, ’n voorste vroue-entrepreneur oor wie talle tydskrifte berig het en ’n uiters professionele persoon wat jy altyd deur ’n ring kon trek.

Toe verdwyn sy van die toneel.

Roodt vertel dit het geleidelik tot haar deurgedring dat al die prestasies, sukses en bekendheid betekenisloos is. “Ek het leeg gevoel en geweet ek moet iets doen, maar wat?” skryf sy in Enkelreis,’n memoir.

Kort voor haar 40ste verjaardag het sy ’n a-ha-ervaring gehad: Sy het haar onderneming verkoop, haar spoggerige sportmotor na Johannesburg gestuur om van die hand gesit te word, en haar ontwerpersuitrustings vir studiemateriaal verruil. Sy was gereed vir die reis op soek na die ware Zarine.

Sy vertel: “Ek is ’n tipiese introvert wat my energie uit my eie gedagtes kry en skakelwerk was ’n baie swak beroepskeuse vir my aard. Die skuif uit dié rigting was deel van ’n proses om die persoon te leer ken wat ek nie voorheen uitgeleef het nie. Ek moes my met myself in kontak bring.”

Roodt het verder in sielkunde studeer, ’n meestersgraad in Gestalt-terapie verwerf en navorsing oor skryfterapie gedoen, maar dit sou nog sowat tien jaar duur voordat haar psigiese reis struktuur begin kry.

“Met my 50ste verjaardag op pad wou ek ’n ritueel koppel aan die oorgang na die tweede helfte van my lewe. Maar wat? Toe ek een oggend wakker word met die woorde lakes and labyrinths in my gedagtes, het dinge in plek begin val.”

In daardie stadium het geen besluit, beplanning, reëlings of handeling vir Roodt maklik gekom nie. Bagasie uit die verlede het haar aan bande gelê, maar ondanks groot twyfel en diep worstelinge het sy vir haar ’n buitelandse reis gereël.

Sy is na Engeland waar sy verskeie labirinte besoek het vanweë die genesende aard daarvan, en na ’n klein Griekse eiland waar sy ’n week lank afgesonder vertoef het en daarna ’n skryfterapiekursus bygewoon het.

Enkelreis gaan oor dié tog wat Roodt in die fynste besonderhede beskryf. Dié aandag aan detail kry wat betekenis wanneer sy gedeeltes uit ’n wye verskeidenheid leesstof aanhaal om lig te werp op haar psigiese belewing.

“Die hele oefening het ’n groot verskil aan my psigiese toestand gemaak. Ek het bagasie agtergelaat wat ek nie meer saam met my hoef te dra nie, en het gevoel ek is beter toegerus om die tweede helfte van my lewe te kan hanteer.”

Wat Roodt toe nie geweet het nie, is die stryd wat voorgelê het om haar memoirs gepubliseer te kry.
“Ná die besoek het ek drie maande lank geskryf voordat die eerste weergawe gereed was. Dit het ek vir vier mense gegee en gevra of hulle dink my verhaal is publiseerbaar.”

Die antwoord was ’n onomwonde ja, maar Roodt se eerste voorlegging aan ’n uitgewer is met ’n dawerende stilte begroet.
Op ’n dag het sy besef net soos skryf vir haar terapeuties is, so was dit vir Ingrid Jonker. Roodt het Petrovna Metelerkamp van Hemel & See-uitgewers gebel wat ’n boek oor Jonker se lewensverhaal uitgegee het en die ooreenkoms tussen haar en Jonker uitgewys.

Daarna het dit nog ’n jaar geneem voordat Enkelreis gedruk is. Einde verlede jaar, vyf jaar ná haar oorgangsreis, het Roodt haar grootste Kersgeskenk nóg gekry toe die boek met die turkoois omslag by haar afgelewer is.

Enkelreis kan by enige boekwinkel bestel word of van Roodt self. Sy is ook gewillig om die boek aan groepe bekend te stel. Belangstellendes kan haar kontak by zroodt@mweb.co.za

Kassie
ENKELREIS is nie die einde van Zarine Roodt se reis nie. Noudat sy begin het om die weg na haar ware self oop te kloof, gaan sy werksessies hou om ander vroue in die stadium van hul lewe die pad te wys.

“Baie mense beland in ’n rigting omdat hulle dit studeer het, maar dit is nie noodwendig hul roeping nie,” sê sy.

Volgens Carl Jung, dié sielkundige wie se teorie voorsiening maak vir persoonlikheidsontwikkeling in die later jare en by wie Roodt aanklank vind, sê: Die persona of masker is deur jou kultuur op jou afgedwing. Jy kan dit aflê en begin werk aan die mens wat jy eintlik moet wees.”
Roodt werk nou aan ’n konsep vir ’n boek oor droomwerk.