Provence enige toeris se droom. Buite Burger

Provence enige toeris se droom. Buite Burger

Buite Burger – 10 Julie 2001.

Watter dag in ‘n landskap van onvergeetlike dae is die een wat mens sal uitsonder in hierdie landstreek van die spreekwoordelike melk en heuning? Daardie deel van Frankryk wat Peter Mayle letterlik op die kaart geplaas het met die eerste van sy drie boeke daaroor, A Year in Provence.

Is dit toe jy na Gordes in die verte kyk en jou eerste glimps kry van wat die Franse un village perché noem, daardie aardkleurige geboutjies wat in ‘n vreemde maar logiese patroon van ‘n heuwelpiek af in mekaar vleg na ondertoe? Die dag van bykans doodse stilte in die ooptes van die platteland wat net deur die tjirp van die cigale (sonbesie) – wat oral in Provence as simbool gebruik word – onderbreek word? Of is dit die Saterdag wanneer jy in die straatmark in Riez luier en te midde van sterk en oorweldigende kleure en geure die bestanddele vir ‘n piekniek uitsoek? Dalk die Moedersdag wanneer jy in Avignon wakker word en die geluid van beierende kerkklokke reg buite jou kamervenster as’t ware om jou vou? Of die onvergeetlike middagete naby Moustiers-Ste-Marie waar jy by La Bastide de Moustiers kennis maak met die veelbesproke Provensaalse middagete wat uit vyf gange bestaan? Selfs die Saterdagaand op Place Crillon waar die inwoners en ‘n paar verdwaalde toeriste kuier en mettertyd die simmetrie van die tientalle tafeltjies versteur deur die stoele te draai en langbeen uit te strek, gesigte na die weste gekeer, om die laaste strale van die sakkende son in te drink?

En dan besef jy dit is onmoontlik. Jy kan nie een dag – of selfs een oomblik – uitsonder nie. Want in jou herinneringe het die dae ineen gevloei en die ritme van Provence aangeneem. Dit is ‘n ritme wat anders is as enigiets wat jy ooit vantevore tydens ‘n wegbreekkans ervaar het, want dit is ‘n ritme eiesoortig aan Provence.

Jy kan Provence ontdek soos Peter Mayle en sy vrou gedoen het. Of jy kan jouself afsonder en soos Marita van der Vyver daar skryf. Jy kan soos ons ‘n ietsie uit die noorde, weste, ooste en suide uitsonder en Provence só probeer afbaken en smaak. Dit is alles moontlik, want selfs nadat Peter Mayle Provence in die middel-tagtigerjare ‘ontdek’ het, bly dit steeds een van die mees ‘onontdekbare’ omgewings waarvoor die ondeurwinterde reisiger kan hoop.

Provence is in die suidooste hoek van Frankryk geleë en lê teen die Mediterreense kus. Die naam “Provence” dateer uit die Romeinse Ryk en dit was die Ryk se eerste provinsie buite Italië.

Die beste tyd van die jaar om Provence te besoek, is tydens die begin van die Suid-Afrikaanse winter wanneer die weer daar op sy lekkerste begin raak. Ietsie warms vir die koel luggie wat in die aande kan opsteek en ‘n sambreel vir die onverwagte laatmiddag reënbui is al waarvoor jy voorsiening moet maak. Maar almal waarsku daarteen om nie te laat in die somer te gaan nie. Selfs relatief vroeg in die seisoen is daar reeds heelwat toeriste en in Augustus, wanneer die Parysenaars by die duisende na die suide ontsnap vir hul vakansie, is Provence onbegaanbaar.

Die vraag oor waarheen om te gaan, is egter nie so maklik te beantwoord nie. Die keuse is gewoon oorweldigend. Die beste opsie is waarskynlik om jou deur Provence se ritme te laat lei: Nie te veel nie en veral nie te vinnig nie. ‘n Blitsbesoek waar jy by plekkies aandoen eerder as om hulle te ervaar, doen Provence ‘n onreg aan. Alhoewel daar pragtige groot stede soos veral Avignon is, moet die fokus op die klein, ongekunstelde dorpies val wat die hart van Provence is. Maak dus seker dat jy ten minste drie aande op ‘n plek oorslaap. En daar is dorpies soos Menerbes (waar Peter Mayle en sy vrou blykbaar tydens A Year in Provence gebly het), Gordes, Bonnieux, Isle sur la Sorgue, Mougins en vele meer wat mens nie mag misloop nie. Dink egter ernstig daaroor of jy vertrap wil word by die Franse Riviera in plekke soos St Tropez, Cannes en Nice. Terloops, die jaarlikse Festival du Film International vind teen die einde van Mei in Cannes plaas en vanjaar s’n was die 54ste een.

Wat Provence veral interessant maak, is die ongelooflike kontras tussen oud en nuut. By klein dorpies soos dié hierbo, sien jy dit aan die satellietskottels wat pryk tussen die skoorstene van huise wat honderde jare oud is. Of in sjiek klein boetieks in ou-ou geboutjies waar die strate nog met keistene gelê is. By groter stede lê die ou hart tussen die moderne en dikwels lelike vooruitgang wat die stad omring. As Suid-Afrikaners val die kontras tussen hierdie plek en ons eie land ook op: op ‘n Saterdagmiddag kom ons ‘n afslaankap Renault teë wat op die skouer van die pad geparkeer staan teenaan ‘n groot oop veld; twee ou dames sit rustig op hul veldstoeltjies en skilder sonder om eers op te kyk na ons motor wat stilhou om ‘n paar foto’s van dieselfde toneel te skiet.

Die beste manier om Provence vanuit Parys te bereik, is per trein vanaf die Gare de Lyon. (Dit kan ook per motor gedoen word, maar dit is waarskynlik goedkoper en beslis vinniger om per trein na Provence te reis en daar ‘n motor te huur.) Die TGV wat teen 300km per uur reis, beteken dat jy Avignon byvoorbeeld binne drie-en-‘n-half uur bereik – en die trein is stiptelik! Dit maak sin om vooraf te bespreek en om vir eersteklas te bespreek. En natuurlik kyk niemand jou skeef aan as jy jou eie padkos vir die rit saambring nie – behalwe wanneer jy amper ‘n bottel wyn op ‘n Amerikaanse mede-reisiger se voet laat val!

As jy eers daar anderkant land, is die openbare vervoerstelsel nie meer die opsie wat dit in Parys is nie. Om rond te reis, is ‘n gehuurde motor waarskynlik die beste oplossing: ‘n Stompstert Renault Clio is net die ding vir die moeilike draaie en die nog taaier parkeerplekke! Artikels oor die streek maak byvoorbeeld melding van fietse wat gehuur kan word om die afstande tussen die dorpies af te steek. Omdat die plekkies so na aan mekaar geleë is, lyk dit na ‘n baie lekker opsie soos die etlike fietsryers langs die pad trouens ook aandui. Ons het egter nêrens advertensies vir hierdie vorm van vervoer teëgekom nie.

Daar is ook ‘n paar verskillende keuses wat verblyf betref. As jy nie omgee om in ander mense se sakke te leef nie, kan jy in een van die talle auberges (gastehuise) op elke dorp tuisgaan. Op hierdie wyse leer jy terselfdertyd die plaaslike mense ken. As privaatheid vir jou belangrik is, is ‘n hotel waarskynlik ‘n beter keuse. Maar pasop, dit is nie so eenvoudig soos om in Suid-Afrika ‘n hotelkamer te bespreek nie. Hier betaal jy per kamer, nie per persoon nie. Kamers word verskillend geprys volgens een van die volgende: ‘n kamer sonder badgeriewe in die kamer self, of met ‘n stort of ‘n bad, met ‘n dubbelbed, met toegang tot die hotel se garage – ja, daar word selfs vir die hond(e) se verblyf voorsiening gemaak! As jy regtig gelukkig is, kan jy ‘n effens afgeleefde château by een van die immerteenwoordige plaaslike agence immobilière (eiendomsagente) huur of selfs koop.

Inkopies en geskenke behoort nie juis ‘n rol te speel tydens ‘n besoek aan Provence nie. Die versoeking bestaan om van die veelkleurige bedrukte tafeldoeke te koop, of die seep wat van Marseille af kom, of die parfuumessens in Grasse. Baie van die produkte is egter duur en maar soos elders hoofsaaklik op die toeris gemik. Konsentreer eerder daarop om die kleure en geure van die Provensaalse markte se ryke verskeidenheid te ervaar. Proe die landstreek aan sy kos wat vryelik beskikbaar is en sy inwoners na aan die hart lê: Van die verskeidenheid sauçissons (wors) tot die sterk-gegeurde bokmelkkase, die verskillende soorte brode, olywe wat nie hier in ‘n winkel te kry is nie, peper en ander eksotiese speserye wat uitgesprei lê, olyfolie wat soos wyn geproe kan word, tuisgemaakte nougat, reusegroot aspersies, vreemdsoortige groentes en vlesige aarbeie – alles die meeste van die tyd omgeef in ‘n waas van die Provence essens, laventel (“lavender”). En die blomme: Plomp roosknoppe in kleure wat jou lus maak om die hele bos op te raap en bossies gedroogde laventel – want een van Provence se grootste skatte blom eers in Julie.

Provence is ‘n voorreg wat wag om ontdek te word!

Enkele uittreksels uit Peter Mayle se derde boek oor Provence, Encore Provence
Ons het die volgende veral geniet:
• “Tourists, of course, are always other people; never us. We are different. We are travellers – intelligent, well-mannered and cultured, a blessing on our chosen destinations, a delight to have around.”
• “They wear the uniform of prudent tourists: anoraks, in case of a sudden change in the weather, and those abdominal growths designed to confuse pickpockets – pouches of black nylon strapped around their waists, pregnant with valuables.”
• “ … there are many of them (Provencal establishments) – which open and close according to a timetable that is guaranteed to bewilder an mystify the unwary. (They) seem to follow only one consistent rule: whether they open at eight in the morning or not until ten, they lock their doors at lunchtime. The shutters come down at noon for at least two hours, often three. In small villages, this can stretch to four hours, particularly when the heat of summer calls for an extended siesta.”
• “ … sometimes I have the feeling that Provence is attempting to do the splits, with one foot in the past and the other testing the temperature of the future.”
• “ … will give you a pile of cut lavender, with a dozen ways to enjoy it. The fragrance lives to an aromatic old age, and a small sachet of lavender left in a drawer of linen closet in July will retain its scent, faded but still distinctive, until December or beyond. Finally, save a few bunches of dried lavender to put on to the first fires of winter, and the house will smell like the purple patch you cut those many months ago.”
• “If there is a single Provencal tradition that every visitor should experience at least once, it is the siesta … Oddly enough, we have often found it very difficult to convince our guests that this is a healthy, sane and refreshing way to spend a hot afternoon. They have arrived in provence with their work ethics intact and their Anglo-Saxon distrust of self-indulgence posed to resist undisciplined, slightly decadent Mediterranean habits. Fear of inactivity comes bubbling to the surface. We haven’t travelled all this way, they say, to do nothing.”

Om die rit te beplan
• ‘n Frank kos ongeveer R1.10. Omskakeling is dus nie nodig nie, en die waarde van die rand teenoor die frank stem in ‘n groot mate ooreen – alhoewel petrol byvoorbeeld 7.90 frank per liter kos.
• Die taal is ‘n probleem. Neem dus ‘n Franse fraseboek saam vir die restaurante, padtekens en dies meer. Onthou maar ‘Parlez-vous anglais? (“Do you speak English?”)
• ‘n Goeie reisgids is noodsaaklik, bv. Eyewitness Travel Guides se Provence & the Côte d’Azur (1999) wat teen R153 by Exclusive Books bestel kan word as dit nie beskikbaar is nie. Hierdie bron bevat ook inligting oor verblyf.
• Kaarte vir die streek is noodsaaklik, veral as daar met ‘n gehuurde motor diep in die platteland rondgery word. Kyk uit vir die dik Michelin gids wat in Parys gekoop kan word voor die rit ‘n aanvang neem. As jy vergeet, sal dit in een van die groot stede soos Avignon beskikbaar wees. Kyk egter in elk geval uit vir die Centre Ville bordjies wat altyd teenwoordig is. Dit bring jou altyd gou by die hart van elke plek uit.
• Jy het ‘n internasionale lisensie nodig en onthou, die verkeer ry regs en die motors het ‘n linkerhandstuur! Die lisensie kan gereël word by die AA in Bloemfontein: Vul ‘n vorm in, sluit die paspoort en twee identiteitsfoto’s in en betaal R45. Tolgeld is op die Autoroute betaalbaar , alhoewel dit verkieslik is om die kleiner, sekondêre paaie te volg om soveel moontlik van die platteland te ervaar.
• Daar is ‘n toeristekantoor (Office du Tourisme) in letterlik elke plek, selfs die heel kleinste dorpie.
• Wees bedag op die feit dat baie ondernemings op ‘n Maandag gesluit is – dit is vanweë die lang week wat gewerk word.
• Maak seker dat spesifieke museums, kunsgalerye ens. op ‘n spesifieke tyd en selfs ‘n spesifieke dag oop is, veral wanneer ‘n besoek aan ‘n stad of dorp hierrondom beplan word. Die kunsgalery Fondation Maeght in St-Paul-de-Vence is byvoorbeeld daagliks toe tussen 12:30 en 14:30 en van 12:00 af word besoekers nie meer ingelaat nie.
• Jy hoef nie fooitjies by restaurante te betaal nie.
• Winkels maak gewoonlik teen 19:00 toe en maak teen 09:00 en selfs 09:30 eers oop.
• Daar is oral klein supermarkte, soos die G20, wat baie handig is, veral in gevalle waar hotelle 125 frank per persoon vir ‘n kontinentale buffet vra. Hulle sluit ‘n bietjie later as die winkels.

Watter dag in Provençe
Onderskrifte vir skyfies

Skyfie 1:
BONNIEUX is ‘n voorbeeld van un village perché, oftewel die dorpies met hul eiesoortige voorkoms en beplanning wat oral in die streek voorkom.
FOTO: ANTON ROODT

Skyfie 2:
MARKDAG in Aix-en-Provence. Die olywe in elke denkbare kleur is maar een van die bekende produkte wat op al die markdae uitgestal word.
FOTO: ANTON ROODT

Skyfie 4:
ALMAL soek nou die son op na die winter. Place Crillon in Avignon is blykbaar een van die gewildste kuierplekke in die ou deel van hierdie pragtige stad.
FOTO: ANTON ROODT

Skyfie 5:
MOUSTIERS Ste Marie is nog een van Provence se juwele. Die dorpie se kapel waak oor sy inwoners en die ster wat tussen die twee pieke gespan is, blink soos die laatmiddagson of die helder maan hom vang.
FOTO: ANTON ROODT

Kliek hier om die dokument af te laai