Namakwaland nabetragting vir familie en vriende

namakwaland

“Voor 10:30 kry jy die blomme nie eers met skriflesing en gebed oop nie” maan ons selfopgelegde reisgids, Erwin. As Vrystaters op hulle eerste blomkyktoer kon ons nie vir beter advies gevra het voor ons na ‘n laat-ontbyt en gewapen met ‘n Hantamkaart vol van sy handgeskrewe aanwysings uit Calvinia weggespring het nie.

Ons grootste vraagstuk voor hierdie gesinsavontuur was die beste roete na en deur Namakwaland, aangesien ons uit Bloemfontein noord moes ry, terwyl dit eintlik ideaal is om dié wêreld uit die suide te benader sodat die son van agter jou oor die blomme val – nog een van die beplannings”geheime” wat vir nuwelinge verstoke is. Ons het by Orania oornag sodat ons vroeg die volgende oggend die lang trek na Calvinia kan aanpak oor Britstown en Loxton, Carnarvon en Williston – name wat lekker van die tong afrol. Van Calvinia is ons na Clanwilliam, en vandaar na Springbok – lang, uitgerekte afstande wat ons oor vyf dae afgelê het voordat ons via die Augrabies-waterval en oor Upington terug is Vrystaat toe.

Dit was duidelik dat ons nie ‘n beter tyd kon kies vir ons Augustusverposing nie. Trouens, etlike koerant- en ander berigte het ‘n bloeijaar in Namakwaland voorspel danksy die milde reën van vroeër. Maar in werklikheid moes ons dikwels lang afstande agter die uitgestrekte blommeprag aanry. Om dit dan te aanskou, was egter elke kilometer van afwagting werd: Perfekte sinchronisisiteit tussen die regte plek, die regte tyd en die son wat die skugter blomme as’t ware ooppamperlang sodat die monochromatiese landskap waardeur jy so pas gery het, in ‘n oogwink haar veelkleurige kleed oopsprei.

Jy besef gou dat jou gejaagde stadstempo jou in hierdie wêreld niks in die sak sal bring nie. Dis ‘n ander ritme hierdie.

Danksy ons reisgids het ons deur Groot Toren en Naresie in die Loeriesfonteindistrik gery – name wat ons huiswerk nie opgelewer het nie, en ons eerste kennismaking met die Hantamwêreld se sonderlinge natuurprag. Ons moes ons nie steur aan die hekke nie, want hierdie was ‘n openbare pad, het hy gesê, en sodoende het ons plaaspaaie en diep waterdriwwe aangedurf wat ons na wilde wit blomme gelei het.

Plaashuis in die agtergrond op Groot Toren

Plaashuis in die agtergrond op Groot Toren

Die wilde wit blomme op Groot Toren
Die wilde wit blomme op Groot Toren

Dat ons uitsonderlike advies gekry het, is getuig deur die feit dat ons slegs hier en daar ‘n ander voertuig teëgekom het – anders as by die Kokerboomwoud op die Rondekop-blomroete en die Nieuwoudtville-waterval in die Doringrivier waar ons saam met talle ander medereisigers aangedoen het.

Een van die kokerbome in die kokerboomwoud in die Niewoudtville-omgewing
Een van die kokerbome in die kokerboomwoud in die Niewoudtville-omgewing

namakwaland3

Die Niewoudtville-waterval in die Doringrivier

Die Kamieskroon-omgewing en veral die Namakwaland Nasionale Park was ‘n belewenis in elke sin van die woord: Ons het net betyds deur die hekke geglip om die laatmiddagson te vang wat die veld in skakerings van dieporanje en oker getooi het sodat ons weer en weer stop om nóg ‘n foto te neem … en nog een.

Laatmiddag op Kamieskroon

Die dieporanje prag van die Namakwa Nasionale Park
Die dieporanje prag van die Namakwa Nasionale Park

Die koffie op Kamieskroon het ons amper duur te staan gekom – had ons maar geweet dat ons eerder by die Skilpad Reservaat Restaurant kon verpoos (die reservaat is deel van die nasionale park).

Benewens die blomme was die platteland waardeur ons roete gevleg het ‘n openbaring. Hier kraai Die Campbells koning en konfronteer ons dikwels in restaurante waar reusegroot televisieskerms opgestel is – praat die mense dan nie met mekaar as hulle uiteet nie? Hulle verkies blykbaar om te dans – Vat My Vas, Komaan Kom Dans, Bokkie Bekkie Baby – besef ons by ‘n plek soos die Myl 250-restaurant op Calvinia met sy doelgemaakte dansvloer tussen nagemaakte rotswande waar die water tussen kunsmatige groen blare biggel. (Geen wonder dit het my aan Hendrik se Grot van Genot op Niewoudtville laat dink nie.)

Skrywer en fotograaf demonstreer ...
Skrywer en fotograaf demonstreer …

Natuurlik is daar heelwat spytighede, hoofsaaklik in die vorm van plekke waar jy nie uitgekom het, of plekke waar jy langer sou vertoef het as jy van beter geweet het. Maar dis die lot van die langpadreisiger.

By nadenke sou ons waarskynlik nie die lang sinkplaatpad van Clanwilliam na Wupperthal toe aangepak het nie. Weg! se 2006-foto’s van die Dorp van die Maand het ons gelok na dié tydlose wegsteekplekkie met sy Morawiese sendingstasie en die belofte van ‘n paar bloedrooi Wupperthalers, maar die realiteit op ‘n Saterdagmiddag, vyf jaar later, is effe troosteloos. Dit word vererger deur die gelatenheid van een van die min oorblywendes in die skoenfabriek op die dorp – die Chinese met hul plastiekinvoerskoene vat die brood uit hulle mond en hulle werk nou net drie dae van die week, beduie hy. Die mooi van die Biedouwvallei vergoed egter ruimskoots vir die empatiese teleurstelling wat ons op Wupperthal ervaar het en ons trek hier die veld in om die toebroodjies te eet wat ons op ‘n liewe vriendin se aanbeveling die oggend by die Spar op Clanwilliam gekoop het tussen die swetterjoel Saterdagkopers.

 

Kleurryke blomme in die BiedouwvalleiKleurryke blomme in die Biedouwvallei

Die oënskynlike hand-tot-mondbestaan op Wupperthal staan in skrille kontras met die Cederberg Bushmans Kloof Wilderness Reserve and Wellness Retreat op pad soontoe: Nie eers die spesiale aanbieding vir laatkommers op hulle webwerf sou ons verby die imposante en ontoeganklike hekke kry nie.

Ons kon langer op Clanwilliam vertoef het: Een van die tien oudste dorpe in ons land, aan die voet van die grootse Sederberge. Ons was egter gelukkig om die jaarlikse Clanwilliam Veldblommeskou raak te trap en die Blomkerk met sy sederhoutpreekstoel in sy volle glorie te sien. Wie sou kon raai dat die fraaie protea haar in soveel gewade kan optooi? En dat die skaam vygie soveel niggies het?

 

Die Blomkerk op Clanwilliam tydens die Clanwilliam VeldblommeskouDie Blomkerk op Clanwilliam tydens die Clanwilliam Veldblommeskou

Iets wat ‘n bitter smaak gelaat het, is die gevoel wat ons plek-plek gekry het dat blomkykers in hierdie papskeptyd uitgebuit word. Swak diens was dikwels aan die orde van die dag en verblyf en eet grens aan stadspryse. By Reinholds op Clanwilliam het slegs die vriendelike en professionele maître d’ vergoed vir die feit dat my hoender cordon bleu uit ‘n Country Fair-boks afkomstig was. Die Hantamhuiskompleks van Erwin en Alta Coetzee op Calvinia was ‘n welkome uitsondering en ons bruidskamer in die Dorphuis, circa 1860 en ‘n nasionale gedenkwaardigheid, was ‘n outentieke belewenis soos min. Die huis is grootliks oorspronklik en die engelafdrukke van ene Miss Harrington neffens ons hemelbed het my met patos vervul (ek het aangedring dat Anton foto’s neem, en nou het hy die mooiste waterverf van een van die engele gemaak – my kersgeskenk, meen ek).

 

Die hemelbed in die bruidskamer van Die Dorphuis in die Hantamhuiskompleks op CalviniaDie hemelbed in die bruidskamer van Die Dorphuis in die Hantamhuiskompleks op Calvinia

Ek het my mond die aand aan kerrie-afval gewaag en my man en seun het gesweer murg is die geheime bestanddeel in die lekkerste sampioenroomsop wat hulle nog geëet het; ons het gou verstaan hoekom daar ‘n maagtrooster op die wynlys verskyn.
Ons is vanjaar geseën. Wie weet hoeveel reën volgende jaar sal val?

Nog inligting:

– ‘n Goeie roetekaart is onontbeerlik, veral wanneer jy nie op die gebaande weë bly nie. By die verskillende verblyfplekke is daar gewoonlik plaaslike kaarte beskikbaar wat detail en roetes gee wat nie op die kommersiële kaarte beskikbaar is nie.
– Onthou veldblomgidse en selfs ‘n voëlboek as jy in iets meer as die blomspesies belangstel. En natuurlik ‘n kamera en verkyker. As jy ernstig oor jou blomfoto’s is, neem ‘n grondkleedjie saam: Plat op jou maag, en van naby, is die enigste manier om reg aan die blomme te laat geskied.
– ‘n Viertrekvoertuig is nie noodsaaklik nie, maar dis beslis in sekere gevalle makliker en is plek-plek die enigste manier om toegang te verkry; onthou net dat ultralae swaweldiesel nie geredelik beskikbaar is nie.
– Neem genoeg kontant saam. En beskerming teen die son.
– Maak seker hoe laat plekke sluit, byvoorbeeld die Namakwaland Nasionale Park.
– Nuttige webwerwe: www.clanwilliam.info; www.cederberg.com; www.south-north.co.za

Die fotograaf in die BiedouwvalleiDie fotograaf in die Biedouwvallei

(Aanpassing van ‘n lesersbydrae wat vir Weg! geskryf is)
-Zarine Roodt
Junie / Julie 2009