‘n Storie oor Switserland

Oftewel ‘A leap of faith’ – agt jaar later

Oor so ‘n ervaring m?ét ‘n mens skryf, wíl ‘n mens skryf. ‘n Storie oor ‘n plek waar jy diep gaan skep het, asemgehaal het, kop skoongemaak het en daagliks met essensie omgegaan het. ‘n Tyd sonder telefoon, sonder dagboek en sonder die oorweldigende alledaagse detail wat jou tyd steel en oor jou kop hang, sonder die moets en die kan-nie’s wat jou gemoed verswaar. Maar oor nog veel meer: ‘n Storie oor ‘n plek waar jy sterk beleef dat dit deel is van ‘n vorige lewe. En ‘n “storie” is my manier om hierdie stukkie tyd vas te vang en op papier te verewig, om gestalte te gee aan hierdie enigsoortige ervaring.

Die storie vertel dus nie van die nuwe rooi tassie wat ek vir die trip gekoop het nie; dit deel nie die gevoel van antisipasie eie aan dié wat ek as ‘n jongmeisie van 30 jaar gelede ervaar het voor ek op my eerste oorsese reis vertrek het nie. Dit gaan nie oor die stiptelike treine van Switserland, of oor die feit dat die land skoon en georden is nie (die Switsers word as anal retentive beskou, maar met hierdie soort anal retentiveness kan èk saamleef). Ek vertel ook nie van die nuwe smaakervaring van Birchermüsli waarmee ek elke oggend afgeskop het nie. Ek skets nie die immerteenwoordige sierlike swane op die mere, òf hoe die land se mense in en om die water lééf nie. Kortom, hierdie is nie ‘n reisbeskrywing in die gewone sin van die woord nie, maar eerder ‘n intens persoonlike skrywe.

Ter agtergrond:
Deur ongekende sinchronisiteit – ‘n storie op sy eie * – bevind ek my in Julie 2007 in Switserland op die jaarlikse Jungian Odyssey. ‘n Weeklange ervaring waar ongeveer 80 kenners van, en belangstellendes in, Jung vanjaar bymekaar getrek het. Die kongres self (week 2) het vanjaar tussen die dorpies Gersau en Vitznau plaasgevind, in die Hotel Rotschuo teenaan die Vierwaldstättersee. (Die rooiskoen-hotel, so genoem vir geen romantiese redes nie, maar vir die dogter wat deur ‘n woedende pa in die meer verdrink is en wie se rooi skoen as enigste teken op die wal gevind is.) Die kongres is voorafgegaan deur ‘n week van lesings by die International School of Analytical Psychology (ISAP), Zürich – waarvandaan die Zürichsee maklik per trem bereikbaar is. Hierdie twee weke was die werklike rede vir my besoek en hou verband met my toekoms, spesifiek my lewenstaak. Die derde en laaste week het Anton by my aangesluit en is ons na Montreux, die “Franse” deel van Switserland. Hier het ons die jaarlikse Jazz Festival bygewoon en op Lac Léman gebly. Tussendeur het ons per trein na die teenoorgestelde deel van die land gereis, en per bus in Vals aangekom sodat ons die spa kon beleef wat Peter Zumthor vir die Hotel Therme ontwerp het. Hierdie laaste week was dus die ‘vakansie’-been van die trip en verdien om volledig en afsonderlik vertel te word.

Maar bostaande is die feite. En ek wil eerder die ervaring deel, wat ek doen aan die hand van ‘n aantal momente – eerder as in ‘n skryfmonoloog in chronologiese formaat. Benewens die persoonlike aard van die skrywe, moet daar in gedagte gehou word dat hierdie momente idiosinkraties is en dat hulle hier uitgelig word oor die besondere betekenis wat hulle vir my inhou.

Eerstens:
Hierdie tyd is presies agt jaar sedert ek voor ‘n Bloemfonteinse wintervuur besef het dat my ou lewe uitgedien is en dat ek moet “laat gaan”. Maar ek sou nooit in my wildste drome kon dink dat my leap of faith van destyds my op hierdie pad sou lei nie, na hierdie plek sou lei nie:

My mees blywende gewaarwording van die Zürich- en Rotschuotyd hou verband met ‘n stelling deur James Hollis – ja, Hollis van The Middle Passage en Swamplands of the Soul (om maar twee te noem). Tydens die ongekende en ongehinderde vloei van woorde en feite uit sy brein wat duidelik semanties geniaal is, het hy die volgende oor die Jungiaanse sielkunde gesê: “It’s not about what it’s about”. Ek moes mooi dink om hierdie een uit te pluis, maar tydens die kongres het dit toenemend vir my duidelik geword. Meer nog, dit het die sluimerende gevoel wat ek tydens die lesings in die voorafgaande week ervaar het, perfek saamgevat. Híerdie mense funksioneer nie bloot op ‘n konkrete vlak nie, maar in en vanuit ‘n dieper dimensie: Hulle skep hul inspirasie uit hierdie dimensie en maak mitologiese figure, fairies en pixies, drome en kunsvorme soos dans, skilder en skryf deel van hul leefwêreld. Op hierdie wyse kan histories-verwyderde figure soos Penelope, vrou van Odysseus, en Georgia O’ Keefe oor een analitiese kam geskeer word as voorbeelde van vroue in geïndividualiseerde, archetipiese verhoudings: “They allowed the otherness of the other to live in the relationship”. En s? word die verhouding tussen God en Job vanuit ‘n ander siening ingekleur: “… but God Himself was transformed by his encounter with Job”. Kortom, hulle diep agter die voor-die-handliggende en onder die oppervlak; hulle kloof oop tot die been en maak hierdie wêreld van die kollektiewe onbewuste toeganklik. Meer nog, hulle wy ‘n professionele en persoonlike lewe hieraan: Hulle doen navorsing, skryf, publiseer en gee lesings oor hierdie aspekte van die onbewuste wat by hulle persoonlik resoneer en skep ‘n stil, tevrede en intens stimulerende bestaan hierrondom (hierdie is waarskynlik my projeksie, maar ek beleef dit met ‘n groot mate van sekerheid). Ek dink hierdie besef wat uitgekristalliseer het, is ‘n belangrike wegwyser vir my eie toekoms.

Ek het tuis gevoel in hierdie moment. Omring deur mede-introverte. Mense op ‘n journey – alhoewel Murray Stein, oor wie se werk oor midlife transition ek tans oplees, reken dat hierdie begrip banaal geword het vanweë die oorbruik daarvan. (Vir die oomblik is daar, vir my in elk geval, nie ‘n beter woord nie.) Wat my veral opgeval het, is hoeveel van hierdie mense ouer is; ek praat nie van oud soos ons kinders dink ons is nie – ek praat van 60+, 70+ en selfs ouer. Mense met oop koppe wat vrae vra en wat reis agter die antwoorde aan. By ‘n verbyflitsende perron vang my oog die boodskap op ‘n reklamebord wat reis per trein aanmoedig: “… sur la route du coeur”; Ek vryvertaal, maar vir m? lui hierdie boodskap “roete van die hart”. Dít is hoe jy die journey aanpak: Deur, en na die hart.

Iets anders wat my bybly, is die gesig van ‘n ou dame wat ek en Anton op die Hauptbahnhof raakgeloop het. In die tagtigs en uitgevat van kop tot toon: Geen “oumensskoene” vir haar nie, met ‘n mooi handsak en pragtige juwele – ‘n prentjie van ouwêreldse elegansie. Sy kom gefokus voor en is kennelik in haar kop op ‘n plek waar sy afgesonder is van die mense om haar. Sy reis alleen en het ‘n klein tassie op wiele by haar; sy is duidelik op pad erens heen vir ‘n naweek of selfs langer. S? wil ek oud wees: Onafhanklik, verkennend, selfhandhawend.

N?g ‘n blywende image: Die man en vrou in hul houthuisie aan die meer; hul geniet laataand, saam met die Switserse sonsondergang, hul aandmaal by ‘n tafel vir twee op hul houtdek, hul gesigte na die meer en die kleure van die sterwende son gekeer. S? wil ek saam met Antonius oud word.

My mees melancholiese besef tydens hierdie ervaringsmoment was toe ek vir oulaas langs die meer by Rotschuo gaan stap het, en geweet het ek gaan waarskynlik nooit weer hierdie plek en hierdie mense sien nie, in elk geval nie in hierdie leeftyd nie. Ek háát afskeid.

Hierdie storie kan nie vertel word sonder verwysing na boeke nie – “books both lost and found”. Naas koffie en wyn was my enigste extravagance die boeke wat ek by die kongres gekoop het. ‘n Hele boks vol wat dieselfde warm gevoel om my hart gegee het wat ek in my vorige lewe ervaar het wanneer ek klere of goed vir die huis gekoop het. Ek is vreesloos oor die ekstra gewig, want ek het ‘n kleeeiiin tassie vir die 3 weke gepak, welwetend dat daar boeke te koop sal wees by die kongres. Lang storie kort: Ek is die boeke kwyt. Erens tussen die hotel in Zürich en die Hauptbahnhof – maar ek besef dit eers op die perron in Lausanne. Ek gaan nie die storie uitrek met die vervelige detail rondom my pogings by die Kantonpolizei of die Lost and Found Buro nie. Maar die boeke is weg. Wat die kosmiese boodskap agter hierdie reuse Freudiaanse fokop is (dis beslis nie ‘n “slip” nie), sal ek waarskynlik nooit weet nie. (Vir die oomblik troos die reisversekering.) Wat betref boeke gevind: In Züri – soos die inwoners geliefd na hul stad verwys – is daar by ISAP twee biblioteke. Een word gesluit omdat dit onder andere Jung se versamelde werke bevat – ‘n reusekorpus van werk. Die ander een is toeganklik en bevat onder andere ‘n hodgepodge van titels wat mense geskenk het in die hoop dat iemand anders betekenis daarin sal vind. Nie alle titels is dus Jungiaans nie, en in hierdie gees word mense genooi om van die boeke te neem en bydraes te laat – al dan nie. In hierdie stadium van my lewe weet en aanvaar ek dat “boodskappe” en inligting deur woorde en boeke na my toe kom. Daarom word ek dus nie meer verbaas wanneer ‘n titel letterlik vanaf ‘n boekrak binne my gesigsveld ”spring” nie. Hierdie keer is dit een deur Bishop John Shelby Spong: Why Christianity must change or die. Hoe is dit moontlik dat mens op die vooraand van vyftig eers sulke inligting bekom? Nou eers moet uitvind waarvan Kobus en JC en Dolf praat? Hoe maak ‘n mens die mindshift om die moontlikheid te akkommodeer dat die Bybel nie die alfa en omega is nie en dat dit selfs dubbelsinnig en vol foute kan wees, eie aan die menslike aard wat vir die skryf daarvan verantwoordelik is? Hoe begin jy toelaat vir die feit dat die universele prentjie van God as die almagtige, gryskopwyse in die hemel “daar bo” op meer as een vlak onakkuraat is; trouens, dat min van waarmee jy op hierdie vlak grootgeword het enigsins stand hou. (Gelukkig het ek nie uitgevind dat daar nie “iets” soos God of Godheid is nie!) Ek werk nog in my kop hiermee en moet besluit watter van hierdie insigte ek vir myself wil neem. Meer belangrik: Ons moet besluit watter hiervan en hoe ons dit aan Leon-Pierre gaan oordra. Maar dis ‘n ander verhaal. Vir die oomblik voel ek meer gerus: Hierdie nuwe worldview sit gemakliker by my, hoofsaaklik omdat my ongemak van lank terug reeds oor die uitverkorenheid van die Judeo-Christengeloof hierdeur aangespreek word; en dit maak my afkeer aan Johan Els van die KlipKerk se manewales tydens die Paasnagmaal – minstens vir my – verstaanbaar.

Op ‘n meer sekulêre vlak: Seal, op die laaste Saterdagaand in Montreux, was ongelooflik. Hy het ‘n besondere sterk presence, en dit hou verband met veel meer as die criss cross-merke op sy gesig. (Volgens Anton, my persoonlike bron van inligting, is dit nie as gevolg van ‘n inisiasie-ritueel nie, maar hou verband met ‘n rare velsiekte wat hy gehad het.) Daardie oomblikke in In Love. Soos Chris Farlow se Baby Blue. En Jake Herzog se Oberon. En die klein, koddige Van Morrison self. (Ons vind later uit by die kelnerin wat ‘n bottel wyn kamer toe bring dat hy in dieselfde hotel bly en dat sy girl kaartjies vir albei sy konserte vir die kelnerin gereël het. Fok. My man sê my nie meer wat goed kos nie, want hy wil my nie bangmaak nie; maar ek het die prys van Morrison se show op die kaartjies self gesien voor hulle asblik toe is.)

Die trip se verleenthede – albei – hou verband met die feit dat ons twee keer by tafels met ‘n direkte uitsig op die meer weggejaag is toe ons (net) wou koffie drink. Hierdie tafels word regdeur die dag gereserveer vir diegene wat wil eet, oftewel mange. Koffiedrinkers word met ‘n regop duim en ‘n smalende kyk beduie om te fokof na daardie deel waar die arme donners in ‘n konkreetmuur of in die tent vaskyk en waar nie eers ‘n skrefie van die meer sigbaar is nie. (Het ek nie al my les op hierdie vlak in Parys geleer nie?)

Maar my grootste verleentheid in hierdie tyd was toe ek aangespreek is omdat ek gepraat het in die Silent Compartment in die trein op pad na Montreux. Die gevoel van “stout skoolkind” spoel oor my toe ‘n mede-passasier onverwags langs my sitplek opduik en met ‘n mislike, meewarige frons haar voorvinger voor haar lippe hou. Ek het nie besef die plakker teen die venster moet só letterlik opgeneem word nie! Ek dog dis net vir die lastige selfone. Ek het darem beter gevoel toe nog ‘n passasier háár kort hierna uithaal oor sy haar voete op die bank geplant het en toe hy, tongklappend en op Frans, vir ons beduie dat ons ons nie aan haar moet steur nie. Die essensie van sy empatiese boodskap, waarvan Anton meer verstaan het as ek, is dat sy ‘n cheek het om my aan te spreek, terwyl sy self iets doen waarvoor daar ook ‘n verboten-teken opgeplak is. (Julle onthou van die anal retentiveness vroeër in die storie?) Maar, ek dink dis meer belangrik om te fokus op die meriete van ‘n Silent Compartment eerder as my verleentheid.

Op hierdie noot: Die klein wegsteektoring in ons kamer by die Eden au Lac (Eden op die meer) resoneer steeds by my. Hierdie klein silent space, hierdie little haven. Hier is daar net plek vir jou en jou stoel; met vensters reg rondom jou waarop die water in al sy buie uitstrek: Sonbestraal met liggies wat daarop flonker; of bloumistig, sodat die skeidslyn tussen bergpieke en uitgestrekte water vervaag. Hier lees jy, mymer jy. Elkeen van ons moet s? ‘n temenos in die kleine hê; ‘n sacred space waar jy kan wegkruip en na binne keer, kontak maak met die binnewêreld.

‘n Paar konsepte het hulself in hierdie tyd herhaal:

• Luminous, wat op Afrikaans beskryf word as liggewend; stralend, skitterend; ophelderend. Ja. ‘n Duisendmaal ja. Dít wat ek op die water gereflekteer gesien het, en ook in terme van my insig ervaar het.
• Constellate: ‘n Werkwoord wat deur Jungiane gebruik word om die herhalende, opeenhopende voorkoms van psigiese of ander aspekte, wat mettertyd ‘n betekenisvolle geheel vorm, te beskryf (my interpretasie). Hierdie ervaring het die volgende in my eie psige begin constellate: Dat ek moet skryf – ongeag my vrese rondom of dit goed genoeg is en wie daarin sou belangstel; dat my taal en my raamwerk dié van die Jungiaanse of analitiese sielkunde moet wees – omdat dit toenemend vir my sin maak en omdat geen ander sielkundige teorie waarvan ek tot dusver kennis geneem het, toelaat vir ‘n ommekeer van die psige se energie – van buite na binne – in die tweede helfte van die lewe nie.
• Transcendent: In my taal beteken hierdie ‘n oorbrugging van die alledaagse. In Jungiaanse terminologie verwys dit na die brug wat tussen die bewuste en die onbewuste gebou word, ‘n aaneenlopende proses op die pad na individuasie, na heelwording – wat as die grootste sielkundige taak van die midlife beskou word (Stein, 1983:81) Hierdie ervaring was onteenseglik deel van my eie proses op dié vlak.
• Hotel Roschuo beskryf homself as Ihre Paradies. En ons bly in Eden op die meer in Montreux. Een van my (verlore) boeke is Mario Jacoby se verduideliking van die paradys-simboliek. Ja. Hierdie was ‘n paradyservaring in die kleine: Soos ‘n kruik wat jy volskep, en dan lepel vir suinige lepelvol uitskep om die alledaagse water te gee – tot die volgende volmaak.

Ek sluit af met die stille tema wat hierdie storie deurweef: Die mere van Switserland. Wat is die simbologie van ‘n “lake” of ‘n meer? “Could a lake represent mysterious forces at work deep in your psyche?” (Mallon, 2003:189). Tyd sal leer.
________________________________________________________________

• Hierdie sinchronisiteit word beskryf in ‘n epos wat op aanvraag aan belanstellendes voorsien word.

Verwysings

Mallon, B. 2003. The Dream Bible. The Definitive Guide to Every Dream Symbol under the Moon. London: Godsfield Press.

Stein, M. 1983. In Midlife. Texas: Spring Publications.

Click here to download