om te lees – My drie gunsteling boeke vir Sarie

SARIE

Die boek wat my eerste te binne skiet, is The Middle PassageFrom Misery to Meaning in Midlife deur James Hollis (Inner City Books).  Ek het myself sowat 15 jaar gelede in ‘n identiteitskrisis bevind en dié boek het my ervaring presies verwoord en in perspektief geplaas as ‘n soeke na persoonlike betekenis in die tweede helfte van my lewe.

Ingrid Jonker se biografie deur Petrovna Metelerkamp is ook ‘n groot gunsteling.  Ek het die boek vir ‘n liewe vriend vir sy verjaardag gekoop en dit later by hom geleen om self te lees.  Ek het besef Ingrid se poësie – soos sekerlik enige kunsvorm – was ook vir haar terapeuties en dit was die inspirasie vir ‘n meestersverhandeling getiteld “Writing as Therapy”.  Vandag het ek natuurlik my eie kopie wat Petrovna vir my geteken het.

My derde keuse is Die Pad na Heelheid (Hemel en See) deur Truida Heymann (lesers kan gerus ook kyk na haar boek Die Ring deur dieselfde uitgewer).  Albei boeke handel oor Jungiaanse konsepte wat Truida in Afrikaans op ons alledaagse lewe van toepassing maak.  Ek het jare lank geworstel met my begeerte om te skryf omdat ek nie ‘n spesifieke genre kon vasvat nie.  ‘n Bloemfonteinse kliniese sielkundige het vir my gesê hy vermoed dat, wanneer ek die pen optel, dit iets in die lyn van Truida se boeke sou wees.  Sy siening was ‘n groot rigtingaanduider.

 

SARIE

Vrae aan Zarine Roodt:

1. Waarom wou jy die boek skryf?

Ek het jare gelede in die kommunikasiekunde begin studeer omdat ek gehoop het om ná my studies vir ‘n tydskrif te skryf – as jy dit wil glo. (My destydse inspirasie was Wilma de Bruin.) Ek was naïef genoeg om te dink dat mens sommer so ‘n pos by ‘n tydskrif losslaan. Maar na my honneursjaar het ek gesukkel om werk te kry en ek het as radiojoernalis by die SAUK in Bloemfontein begin werk. Ek is ‘n jaar daarna genader om ‘n nuwe skakelpraktyk in Bloemfontein op die been te bring en so het my loopbaan in die skakelwese afgeskop.

Maar in ons middeljare word ons dikwels deur omstandighede “gedwing” om ons ware self op te soek. En ek het mettertyd tot die besef gekom dat my eerste liefde steeds skryf is. Na hierdie besef het dit my egter baie lank geneem om my skryfstem te eien … en ek het dit in memoir gevind.

Die groot gawe wat ek uit my oorsese reis van 2008 gekry het, was die konsep vir ‘n boek – my eerste. En dit het neerslag in Enkelreis gevind.

2. Was dit maklik vir jou om jou persoonlike gevoelens in boekvorm neer te pen?

Vreemd genoeg, ja. Ek weet nie hoe anders om te skryf as deur die bril van my eie belewenis van dinge nie. En die vele kort ervaringstories wat ek oor die jare geskryf het, was goeie vingeroefeninge.

3. ‘n Deel van die boek gaan oor jou reis wat jy alleen aangepak het om labirinte in Engeland te besoek. Hoe beduidend was hierdie reis vir jou?

Ek dink meer beduidend as enige ander ervaring in my lewe – benewens die geboorte van ons enigste kind en my eerste aanskoue van hom.

Toe ek in Junie 2008 die reis aangepak het, het ek dit as ‘n angstige (een van die menopousale simptome wat ek ervaar het) – selfs benepe – vrou op die vooraand van 50 aangepak. Die reis was ongelooflik bevrydend en ek het heelwat psigiese bagasie langs die pad afgeskud. Die twee groot ervaringsmomente op die reis was die besef én ervaring dat ek nie alleen is op my lewensreis nie, ‘n besef wat ek nooit uit die religieuse onderrig van my kinder- en adolossentejare ontwikkel het nie; die tweede was die sterk wete dat ek sielkundig gesproke ‘n Rubikon oorgesteek het.

4. Jy noem in die boek jy is ‘n introvert. Hoe moeilik was dit om hierdie reis alleen aan te pak?

Glad nie moeilik nie. En dis hoegenaamd nie bedoel om blasé te klink nie. As introvert is my natuurlike keuse om tyd op my eie deur te bring. Ek ervaar meer en prosesseer beter as ek nie weggelok word deur iemand anders se belewenis nie – selfs dié van iemand so na aan my as my man. Wat dit wél moeilik gemaak het, was my swak navigasievaardighede en die feit dat dit doodgewoon op ‘n praktiese vlak makliker is om saam met iemand te reis.

5. Wat het jy uit hierdie reis oor jouself geleer?

Dat ek ‘n sterk kern en ongeskonde kern het. En dat dit wat ek in die voorafgaande vyftien jaar op akademiese én praktiese vlak geleer het alles meewerk op hierdie punt van my lewe.

6. Hou jy ‘n dagboek?

Ek hou ‘n weekjoernaal. Ek sit gewoonlik vrydagmiddae stil by my huis en werk hieraan … vir my is dit die ideale manier om die week se gebeure te prosesseer en myself psigies in balans te bring. Wanneer ek of ons op reis is, hou ek ‘n reisjoernaal – die dae loop gewoonlik so vinnig dat ek nie andersins die detail sal onthou nie.

7. Jy het ‘n radikale beroepsverandering gemaak. Was dit maklik of neem dit baie moed om so ingrypende verandering te maak?

Dié is nogal ‘n vraag waaroor ek die afgelope jare baie nagedink het. En ek verstom my dikwels aan die stories in veral tydskrifte oor vroue wat oënskynlik maklik van een beroep na ‘n ander verwissel het. Ek besef egter dat nie almal se prosesse so lank en stadig as my eie is nie.

Ek het besef iets is “verkeerd” lank voor ek die skuif gemaak het. Die psigiese ongemak wat ek ervaar het, het my as’t ware genoop om uit die skakelberoep en alles wat daarmee gepaard gaan, te klim. Die skuif self het vinnig gebeur en is deur heelwat sinchronisiteite gekenmerk.

Wat moeilik was, is die jare wat daarna gevolg het. Dit het my baie baie lank geneem om my pad te vind, en ek het dikwels op afdraaipaaie beland. Ek glo in die waarde van terapeutiese ondersteuning en Jungiaanse analise, en dit was van die wyses waarop ek op koers gebly het.

8. Waarmee hou jy jou nou besig?

Sedert die bekendstelling van Enkelreis aan goeie vriende in Januarie vanjaar, het ek ‘n paar ander boekbekendstellings gedoen en is ek genooi om oor die boek en my ervaring te gesels. Ek geniet dit baie, en die soort vrae tydens die bekendstellings asook die terugvoering van mense wat die boek gelees het, laat my toenemend besef dat daar baie vroue is wat aanklank vind by my ervaring en uitklaring van “The Middle Passage”.

Ek is ‘n navorsingsgenoot by die Departement van Kommunikasiewetenskap aan die Vrystaatse Universiteit en ek werk op die oomblik aan ‘n artikel vir ‘n akademiese joernaal.

Ons het ook pas uit ons huis van 25 jaar getrek en is in ‘n oorgangsproses na ‘n nuwe huis wat heelwat van my tyd vereis.
Ek hoop om die tweede semester, wanneer dinge rustiger is, voort te gaan met die konsep vir ‘n rétraite/werkskool wat ek graag op spesiale plekke met labirinte soos Temenos op McGregor vir vroue in dieselfde oorgangstyd as ek wil aanbied.
En in my agterkop werk ek aan ‘n tweede boek, een oor droomwerk vanuit ‘n Jungiaanse oogpunt – alhoewel dit nog ‘n entjie in die pad af lê.