Musiek in kosmopolitiese Montreux. Bonus Volksblad

Musiek in kosmopolitiese Montreux. Bonus Volksblad

Wat jou allereers in Montreux opval, is die kosmopolitiese gevoel van die plek. By eerste aankoms, is jy skoon gedisoriënteer: Jy wéét jy is in Switserland, maar die taal wat jy om jou hoor en lees, is pure Frans. En soos jy op straat beweeg, en veral waar mense saamgedrom is, hoor jy ‘n roesemoes van tale, sien jy ‘n ongekende vermenging van nasie en kultuur.

Dít is Montreux op sy besigste: In Juliemaand – daardie twee weke wanneer die stad lééf, wanneer dit wemel van besoekers oor die wêreld heen – meer as 200 000 vanjaar, om presies te wees. Die groot gelykmaker is die Montreux Jazz Festival, die bekendste musiekfees in Switserland, wat vanjaar vir die 41ste keer plaasgevind het.

En dit moet jy verstaan as jy dink aan ‘n besoek aan Montreux: Jy kom òf vir die fees, òf jy kom omdat Montreux deel is van die asemrowende Switserse riviera. As dit vir laasgenoemde is, doen jy dit nie wanneer die Jazz Festival aan die gang is nie, of jy bly eerder in naasliggende Vevey as in Montreux self.

Dit is m??i hier, en die mooi lê in die kombinasie van die Switserse Alpe en die water van Lac Geneva. Hier lê die meer in al sy buie, so ver soos die oog kan sien: Sonbestraal met liggies wat daarop flonker; of bloumistig, sodat die skeidslyn tussen bergpieke en uitgestrekte water vervaag. Hierdie is al genoeg vir ‘n introvertiese siel. Maar as jy Montreux besoek vir die jazz-fees, is die ervaring een van musiek en mense der mense. Die mense lééf in en om die water; baljaar in bote klein en groot, spring op die ingewing van die oomblik in die meer – klere in ‘n hopie op die wal – en swem tussen die immerteenwoordige, sierlike swane. Die son sit halfagt in die aand nog hoog, en die promenade al langs die meer wemel. Honderde seile flap in die wind en die klap van die takelwerk weerklink oor die water.

Alhoewel die fees van oorsprong slegs jazz was, is dit nie meer die enigste musiektaal wat hier gebesig word nie en musiek van alle kontinente word verteenwoordig. Legendariese groepe soos Led Zeppelin, Deep Purple en Santana is aan die Montreux-feesgeskiedenis verwant. Bekendes soos Marvin Gaye, Eric Clapton en Phil Collins, en later Alanis Morisette, David Bowie en Paul Simon het al tydens die fees opgetree.

Die fees word in Montreux se konvensiesentrum aangebied en die twee hoofvenues is die Stravinski-ouditorium en die Miles Davis-saal. Hierbenewens is daar die Montreux jazz-kafee en ‘n paar klein buitelugverhoë. En dan is daar ‘n aantal bote met temamusiek wat ook tot die algemene kakofonie bydra. Die musiek self begin net na agt in alle erns. Die onbekendes werk hard op die periferie, terwyl die meer bekende kunstenaars in die voorvertonings optree vir die supersterre: Norah Jones, Tori Amos, Seal, Youssou N’Dour, Van Morrison en Larry Carlton om enkeles op vanjaar se program te noem en spesifiek dié wat by my aanklank gevind het. (Nee, ons kon nie vir Norah Jones kaartjies kry nie; dié was uitverkoop binne minute nadat die Internet-besprekings geopen het.) Die kaartjies kos ‘n fortuin en jy verstaan maar min oor die tye wat die shows begin. Al wat jy weet, is dat die deure van die twee hoofvenue’s agtuur open – maar Seal self het byvoorbeeld twaalfuur die nag eers begin, en in sy geval was daar nét staanplek (natuurlik om meer van ons in te pas). Daar is inligtingskiosks in die sentrumvoorportaal, maar die mense maal en drom saam en die musiek wat daar speel, is oorverdowend. Die mense wat die kiosks beman, trek net skouer op; hulle hoor self eers laat in die dag hoe laat presies die kunstenaar optree. Jy gaan dus saam met die vloei van die aand, beur tussen die mense in agter ‘n glas peperduur wyn aan, of soek iets te ete tussen die letterlik honderde stalletjies waar jy énigiets kan kry – die keuse is so uiteenlopend soos die kulture by die fees. Of jy gaan snuffel tussen die reuseverskeidenheid van CD’s en DVD’s van die kunstenaars of die amptelike Montreux-memorabilia wat te koop aangebied word. Daar is ook nog die groot aantal straatstalletjies waar jy enigiets kan koop van kristalle tot matte; jy kan jou hare laat vleg of jouself laat skilder; en tussendeur vergaap jy jou aan mense se kreatiwiteit wat op die sypaadjies uiting vind in enige denkbare vorm. As jy na jou show verder wil jol, is die geleenthede legio: Oral speel daar musiek en jy kan inval waar jou oor die meeste aanklank vind. Die gratis bus loop laatnag deur die hoofstraat en jy besluit self wanneer jy genoeg gehad het.

Die Montreux-ervaring is ‘n spesiale een – ‘n ervaring wat jy kan plooi om jou te pas.

Wat moet jy weet as jy die Montreux Jazz Festival wil besoek?
• Die belangrikste is die kaartjies. Bespreek hierdie op die amptelike webwerf www.montreuxjazz.com en kliek by kaartjieverkope (soms moet mens maar ‘n Franse woordeboek byderhand hê!). Maak egter seker dat jy weet wat op die program is, aangesien jy per venue moet bespreek en nie per kunstenaar nie. Maak seker wanneer die besprekings open. Sorg dat jy ‘n uur of so voor hierdie tyd aanlyn is en bespreek eerste vir die mees gewilde kunstenaars.
• Jy benodig nie ‘n visum vir Switserland nie.
• Dit is waarskynlik die maklikste om per trein na Montreux te reis. Benut gerus die Swiss Travel Pass wat goeie reiswaarde vir geld bied en koop dit vooraf op die Internet of by die lughawe wanneer jy aanland. Hierdeur verkry jy toegang tot trein, bus en boot. En moenie die geleentheid misloop om ‘n bootrit mee te maak nie!
• As jy heelwat shows wil bywoon, is dit die gerieflikste om in Montreux self te bly. Anders kan jy die pragtige Vevey oorweeg en van die fees se busdiens gebruik maak. Soek hierdie op by www.montreux.ch.
• As jy iets op ‘n geskiedenisvlak wil inneem, kan jy vir die nuuskierigheid ‘n draai gooi by Villa Kruger in Clarens; dit is die huis op die meer waar Paul Kruger in ballingskap dood is in 1904. Soek Montreux Jazz Festival op wikipedia op vir geskiedkundige feite.
• Die geldeenheid is Switserse frank. Dié kan jy op die Oliver Tambo-lughawe kry, of eenvoudig by enige outoteller trek by aankoms.

Onderskrifte:
CD+O:
506: Die hotel Eden du Lac is een van die ou hotelle in sy oorspronklike vorm wat teen die promenade by Montreux geleë is.

511: ‘n Kerktoring in die Riviera-omgewing.

CD+1:
476: Talle bote lê vasgemeer aan die Geneva-meer.

489: Freddie Mercury was mal oor die riviera en het ‘n apartement in Montreux gehad. Hy het ook heelwat opnames daar gemaak. Dié bronsbeeld van Freddie in sy kenmerkende uitdagende houding staan op die promenade.

CD+2:
633: Die Geneva-meer en sneeubedekte Switserse pieke is kenmerkend van die Montreux- en rivieravistas.

Zarine Roodt

Kliek hier om af te laai