Media24, Die Burger 9 March 2014

Reis net te kort om binnesiel te bereik

ANNEMARIE VAN DER WALT
Sondag 09 Maart 2014

Enkelreis – ’n memoir

Enkelreis – ’n memoir

Zarine Roodt

HEMEL & SEE, R180

Kort voor haar 50ste verjaardag pak Zarine Roodt van Bloemfontein ’n alleenreis aan. Sy wil haar simbolies voorberei op die nuwe hoofstukke in haar lewe, asook afstand doen van oortollige emosionele bagasie.

Sy kies drie bestemmings vir die drie weke lange toer: Engeland om ’n verskeidenheid labirinte te besoek, die Griekse eiland Alonisos ter wille van selfopgelegde afsondering en die Griekse dorpie Kissos om ’n werksessie oor terapeutiese skryfwerk by te woon.

Met die intrapslag verwys Roodt na Elizabeth Gilbert se Eat, Pray, Love as inspirasie vir haar eie helende reis en die drieledige struktuur daarvan.

Wanneer sy in ’n aankomssaal ’n jong vrou met dié boek in die hand sien, is dit vir Roodt een van vele oomblikke van sinchronisme op haar reis.

Die soektogte in Engeland na die labirinte wat Roodt graag wil besoek, kan gelees word as die groter soeke na die “heel vrou”. En wanneer ’n mens die individuasieproses aanpak in Jungiaanse terme, moet jy jou maar vasgordel vir ’n rowwe psigiese rit. Ongelukkig is dit vir dié leser waar die boek te kort skiet: Roodt se binnereis styg selde uit bo die anekdotiese. Die verreikende proses word nie werklik verhelder nie.

Die labirint as versinnebeelding van die reis na binne en die “argetipiese weg na die vroulike” word te ligweg aangeraak en het nie oortuig nie. ’n Skeut geskiedenis oor labirinte en waarom daar soveel in Engeland is, sou heelwat bygedra het tot ’n leek se begrip.

Die twee weke in Griekeland se ervarings word onderhoudend vertel, maar ’n mens mis die deurleefdheid van Rona Rupert se In die skadu van Berg Athos.

Drie weke is ’n kort tyd (ons Suid-Afrikaners het nie die luukse van Gilbert se dollars om ’n reis uit te rek nie) en myns insiens is dit waar die knoop lê.

Kan ’n mens werklik in een week op ’n slag in die verskillende milieus na die verste en donkerste kamers van die siel reis, terwyl jy so besig is om sin te probeer maak van nuwe omgewings en vreemde kulture?

Enkelreis is ’n goeie inleiding tot die tema van die individuasieproses en behoort lesers te prikkel om ook ander bronne nader te trek. – Annemarie van der Walt is ’n vryskutresensent van Kaapschehoop.