Mê-waka

Dit was maande voor ek hom raakgesien het. Maande voor ek besef het hý is die
een wat altyd nader staan wanneer ek my motor by die motorwassery intrek.

Daar is ‘n spesifieke woord wat pas by die prentjie voor my geestesoog: “sprightly”. Die elektroniese woordeboek op my rekenaar vertaal dit as (spring)lewendig, vrolik, dartel, fleurig – maar die engels beskryf hom beter. Sy gesiggie is kwaai verrimpel en bruin met ‘n geel ondertoon; hy kan ‘n bloedbroer wees van Naume wat ek as huishulp geëerf het toe ek getroud is, en hieruit lei ek af dat hy ‘n Griekwa is.

Ek onthou hoe hy blitsig opspring daar waar hy in die sonnetjie op ‘n omgekeerde koeldrankkissie luier en wag vir die volgende motor, of hoe vinnig hy op sy voete is wanneer hy afbuk om die kraan toe te draai en naderstaan wanneer hy my motor eien. Maar ek onthou veral die groot glimlag wat sy gesig oorval wanneer ek uitklim, hoe sy ogies op skrefies trek wanneer hy vooroor buig om my sleutels te vat – en hoe hy altyd iets sê wat vir my soos “mê-waka” klink.

Mettertyd besef ek ons twee het ‘n verhouding, ek en hierdie klein Griekwa wat ek net in sy daaglikse mondering van blou oorpak en wit rubberstewels ken. Ek is afgehaal wanneer ek daar intrek en hy is nie daar nie, gee traag my sleutels vir sy plaasvervanger agter die waterpomp. Ons twee se weeklikse klein ritueel maak my hart warm voor ek oor die straat koers kies na Mimosa Mall agter koffie en ‘n koordlose Internetverbinding aan. Later bodder ek nie eers meer om na die wit toesighouer te soek nie en vra sommer vir hom, soos dit my vitterige aard betaam, om toe te sien dat die jong manne wat die motors droogvryf, uitkyk vir die watertrane wat alewig by die deure uitloop en hardnekkig bly sit op die lastige swart van my motor.

Dis juis oor dié glimlag van hom wat ek dadelik sien hy is nie lekker nie. Sy oë is dof en kleiner as gewoonlik, en vanoggend se glimlag is maar yl. Ek vra wat’s fout en besef gou hy het griep toe ek van die koors en lyfseer hoor. Hy het darem pille gekry, beduie hy en gaan haal ‘n plastieksakkie daar agter waar hulle uit die oog eet en rus. Hy bly my heeldag by, en ek stop die volgende oggend by die motorwassery met die vitamien C-suigpilletjies wat ek by Boot’s by Heathrow gekoop het toe ek bewus geword het van die steekpyn in my keel wat vir my altyd die voorloper van slegte gesondheidsnuus is. Ek kan sien hy is nie sy normale sprightly self nie en ek beduie hy moet vir die toesighouer sê hy moet huis toe gaan en by sy bed uitkom omdat dit die enigste raad vir griep is.

‘n Week later is ek daar vir my gebruiklike superwash. Ek gewaar hom nie, en vra vir die jong outjie wat vandag die waterpomp beman waar “die ou man” is. Sy woorde ruk my. Dood. Hy is dood. Ek is totaal verslae. Die jongetjie vroetel in sy blou oorpak se sak en bring ‘n verflenterde banksakkie te voorskyn terwyl hy vertel hoe die ou man een oggend bloed opgebring het. Nou maak hulle vir hom ‘n kollekte bymekaar.

Ek verstom my oor die trane toe ek die pad oorsteek. Hoe het hierdie ou man so onder my vel ingekruip? Wanneer? By Mugg & Bean staan skaam Poulina nader om te groet en op die ingewing van die oomblik vra ek vir haar wat “mê-waka” beteken. Sy sit haar hand plegtig op haar bors: “My mother”. Mme wa ka.

Ek ken nie eers sy naam nie, maar vir hom was ek moeder – ek wat seker minstens 10 of 15 jaar jonger as hy moet wees. Vir hom was dit ‘n teken van respek om my só aan te spreek. En nou verstaan ek die seer oor hom: Ek is seer omdat ek nie sy naam ken nie. Nee Zarine, sê dit soos dit is: Seer omdat jy nooit die moeite gedoen het om sy naam te vrá nie. Seer omdat hy so skielik en sonder waarskuwing weg is, dood is. Wie is sy mense? Is daar iemand om hom te onthou? Waar ek hier agter my rekenaar sit, onthou ek met intense selfverwyt hoe ek in my wit meerderwaardigheid daar aangedoen het en hom suigpilletjies in die hand gestop het. Hoekom het ek nie by die toesighouer aangedring dat hy hom huis toe stuur nie? Hoekom het ek nie teruggegaan om te gaan kyk of hy beter word nie? Hoekom het ek nie iets gedoen nie?

Ek wéét dan van hierdie land se donnerse mediese stelsel. In ‘n oënskou van die eerste 100 dae van JZ se bewind is daar aangedui dat sy regering tot op daardie punt die swakste vaar in terme van die beloftes wat gemaak is vir die portefeulje gesondheid en maatskaplik. En aan eie bas weet ek hoe my vriendin Trudie se Katie hierdie jaar twee keer deur die mediese stelsel gefaal is: Sy het eers haar ongebore kleinkind verloor omdat die provinsiale hospitaal se verpleegpersoneel haar dogter huis toe gestuur het nadat sy reeds etlike sentimeter ontsluit het omdat dit, wat hulle betref, ‘n skynkraam was en daar nie genoeg beddens beskikbaar was om haar op te neem nie; en nou onlangs is haar dogter Bettie oorlede nadat hulle twee saam die hele dag op die banke by dieselfde hospitaal se kliniek gesit het omdat Bettie in die nag skielik nie asem kon kry nie. Bettie is net daar in die kliniek dood sonder dat ‘n dokter haar gesien het, ten spyte daarvan dat haar broers en susters in die verdrukking opsy gestaan het sodat sy tot die voorpunt van die lang tou kon beweeg. Net nóg slagoffers van ons land se mediese stelsel waar die (steeds) agtergeblewenes noodgedwonge ure en dae in provinsiale hospitale omsit vir mediese sorg en in nimmereindigende toue aanskuifel agter die medisyne aan wat soos aalmoese uitgedeel word – wanneer daar medisyne ís, bygesê.

Dis die seer wat maak dat hy ‘n week na die nuus steeds by my spook en “mê-waka” soos ‘n refrein in my kop bly draai. Uit ervaring weet ek daar is net een manier om erkenning aan hierdie pyn te gee: Skryf hom. Skryf vír hom daar waar hy saam met sy voorvadergeeste wandel in die Griekwa Tuin van Eden. Daar waar hy nou is, maak dit nie meer vir hom saak nie, maar dit sal mý beter laat voel.

Ek onthou jou. Ek groet jou. Tsamaya hantle, ou vader.