LitNet, 4 June 2014

litnet
Enkelreis deur Zarine Roodt

Enkelreis – ’n memoir

Titel: Enkelreis
Skrywer: Zarine Roodt
Uitgewer: Hemel & see
ISBN: 9780992221904

Zarine Roodt het op ’n enkelreis gegaan – en ’n boek daaroor geskryf. Sy vertel vir Naomi Meyer hiervan.Enkelreis is ’n boek oor reis. Wil jy vertel waarheen?    
    
 Enkelreis gaan oor twee reise.  Die eerste is ’n oorsese reis in 2008, na Engeland en na twee dele van Griekeland, naamlik die afgesonderde eiland Alonnisos en die Pelion-peninsula in sentrale Griekeland.  Ek wou simbolies uiting gee aan my vyftigste verjaardag en die oorgang na die tweede helfte van my lewe.Terug in Suid-Afrika het ek besef my reiservaring en gevolglik ook die boek gaan oor ’n tweede reis, naamlik die argetipiese reis na binne waarmee soveel vroue tydens die sogenaamde “midlife transition” gekonfronteer word;  die reis wat jy aanpak wanneer jy op ’n dag tot stilstand kom en besef dat jy jouself verloor het in die proses van loopbaanbou, van vrou en ma wees en as gevolg van die baie dinge wat ons as belangrik beskou in die eerste helfte van ons lewens …

In die Jan S Maraispark in Stellenbosch is daar ’n labarint waar mens jouself binne kan stap. As jy terugkyk op jou fisiese reis, hoekom moes jy Engeland toe gaan?

Ek neem aan daar word bedoel hoekom moes ek na Engeland reis, en hoekom kon ek nie eenvoudig net iets hier in Suid-Afrika aangepak het nie?In The Art of Travel is daar ’n kort paragraaf wat my baie aanstaan en wat die vraag gedeeltelik beantwoord:

Journeys are the midwives of thought.  Few places are more conducive to internal conversations than a moving plane, ship or train.  There is an almost quaint correlation between what is in front of our eyes and the thoughts we are able to have in our heads:  large thoughts at times requiring large views, new thoughts new places (De Botton, 2002:57).

Die langer antwoord is dat ek ’n “boodskap” van my binneste ontvang het terwyl ek op soek was na moontlikhede vir dié pelgrimstog in die kleine.  Die boodskap was “lakes and labyrinths” – en ek het by labirinte begin.   Vir my was dit logies om na ’n plek te gaan waar daar ’n groot konsentrasie van labirinte was;  gevolglik was my keuse Engeland.  Die klassieke labirinte van die Middeleeue het Engeland ook in hierdie sin ’n goeie keuse gemaak.

Ek kan byvoeg dat dit vir my belangrik was om erens te gaan waar dit vir my veilig was om alleen te reis.  En dat labirinte die afgelope ses jaar sedert ek in Engeland was, toenemend gewild in Suid-Afrika geword het;  kortom, in 2008, was daar nie die groot aantal labirinte hier wat daar nou is nie – in elk geval nie waarvan ek bewus was nie.

Labarinteer kan ’n werkwoord wees: mediteer, bid. Of wat beteken dit vir jou?

Dis ’n lekker woord … wens ek het dit geken en eerder gebruik as die “labirintloop” wat ek deurgaans in die memoir gebruik het.

Ek het nie werklik veel van labirinte geweet en nog minder van hulle verstaan toe ek Engeland toe is nie.  My eerste en enigste kennismaking met ’n labirint in Suid-Afrika op daardie punt was die een by The Edge op Hogsback.

Na aanleiding van die toenemende effek wat labirinteer op my psige gehad het, weet ek dat dit meditasie is, spesifiek bewegende meditasie, wat vir my persoonlik beter werk as sittende meditasie.

Jy verwys na Eat, Pray, Love as ’n soort inspirasie. En ons het pas oor die “pray”-aspek gesels. Watter kos van die reis onthou jy?

Ek onthou die kos op Alonnisos … want in Engeland het ek meestal aan’t hardloop of op reis geëet, terwyl ons in die Pelionstreek “kommune” kos voorberei het.

’n Hoogtepunt was ongetwyfeld die smullekker tiropita waarvoor Alonnisos bekend is.  (Later sou ek uitvind dat dit nie eie is aan Alonnisos soos die eilandbewoners beweer het nie, maar dat tiropita in der waarheid ’n baie gewilde en tradisionele Griekse dis is.)  Dit is ’n kaaspastei waarvoor fetakaas gekrummel word en met ander soorte kaas gemeng word, en dan in filolae toegevou word, met gesmelte botter en olyfolie bestryk word en dan gebak word tot dit bros en goudkleurig is.  Dit kan as ’n hoofdis, ’n aptytwekker of as peuselhappie geniet word.

Ek hou van eenvoudige kos en dit voel vir my of dit wat ek op Alonnisos geëet het in ’n sekere sin “gestroop” was omdat ek maaltye saamgeflans het uit bestanddele wat rondom my beskikbaar was.  Wat ook op Alonnisos en elders in Griekeland uitgestaan het, is die Griekse jogurt wat is soos niks anders wat ek al voorheen geëet het nie.  Slegs Spar se grieksestyl jogurt kom daar naby – en ook nie heeltemaal nie.  Die oorbekende Griekse slaai wat ons hier in restaurante eet, is heeltemaal anders in sy oorspronklike vorm in Griekeland:  dit bestaan uit grofgesnyde tamatie en komkommer, geen blaarslaai, heelwat groenrissie en uie, en ’n skyf fetakaas wat bo-op gelê word;  die slaai word afgerond met ’n skeut olyfolie en ’n sprinkel oregano.

O ja, amper vergeet ek die moussaka op Skiathos.  Verleidelik lekker.

Terloops, Eat, Pray, Love was hoofsaaklik ’n inspirasie wat die boek se drieledige struktuur betref.  Ek kon my eie reiservaring klassifiseer as die loop van labirinte in Engeland, refleksie op die eiland  Alonnisos en skryf in die Pelionstreek.

Prakties gesproke: alles kos … kos oorsee maar duur. Soos ’n klein bottel wyn op die trein. Was dit alles deel van die reis? En was daardie kos(te) die moeite werd?

Dit was duur, ja, hoofsaaklik omdat ek deurgaans meer moes betaal vir enkelverblyf, of eintlik vir verblyf betaal het vir twee mense ten spyte daarvan dat ek op my eie was.  Omdat ek nie in duur hotelle gebly het, of in duur restaurante geëet het nie, het ek myself klein luukses soos ’n botteltjie wyn op ’n trein veroorloof.

Ek glo egter dit is belangrik om hierdie oorsese reis ook aan ’n ander maatstaf te meet.  Ja, reis is duur, selfs ’n luukse.  Maar, om te reis – nie net in jou eie land nie – maak jou kop oop en verbreed jou horisonne.  En in dié sin was my reiservaring van onskatbare waarde.

Om terug te keer na die titel – enkelreis – maar dan ook die liefdesgedeelte van Eat, Pray, Love … Het jy die liefde ook gaan soek? En was die liefde ’n man?

Ek glimlag oor hierdie vraag, want ek is gelukkig – baie gelukkig – getroud.  Vir 27 jaar.

Waarna ek gaan soek het, is myself.

Op ’n lighartige noot:  nadat ’n vriendin van my op facebook iets oor my boek gesê het, het ’n vriendin van haar uit Engeland verneem of ek en my man dan geskei is.  Dit het my ’n oomblik geneem om te snap dat sy verwys na die titel “enkelreis”, en aanvaar het dat ek die boek na aanleiding van ’n egskeiding geskryf het.

Ons almal is op reis, dis nie eens uit keuse nie. Dink jy ons almal moet kies, of kan kies, of ons reis?

Of ons almal moet kies, kan ek nie regtig antwoord nie.  Die lewe is ’n reis en daaroor het ons nie ’n keuse nie.  Wat ek wél kan sê, is dat ons na my mening kan kies – maar dat dit grootliks bepaal word deur die mate van bewustheid waarmee ons probeer leef.

Daar word in hierdie konteks dikwels gesê “we will be dragged kicking and screaming …”.  En deur die pad van bewuswording te loop, gaan ons ons individuasieproses met waardigheid tegemoet, eerder as om daarheen gesleep te word.

Persoonlike verandering of transformasie word as die heilige graal van die terapeutiese pad beskou.  Dus:  òf ons kies om te verander en ons ou, herhalende en ontoepaslike gedragspatrone neer te lê, of lewensomstandighede sal ons dwing om dit te doen.

Sommige mense het nie die eerste gedeelte van die boek geniet nie.  My eie suster het gesê dit het haar te angstig gemaak en sy het nie verder gelees nie.  En ek gee toe dat al daardie wroeging geen plesier kon wees om te lees nie.  Maar wat dit baie goed illustreer, is hoe ons komplekse ons bloots ry … komplekse oor geld, oor wat ons mag en nie mag nie, wat ons behoort te al dan nie.  Wat ek by persoonlike verandering bedoel, is dat dit moontlik is om byvoorbeeld sulke geykte lewensuitkyke te transformeer.

As jy dink aan Engeland, wat onthou jy? Vertel my ’n fotokiekie, ’n oomblik.

Dit moet ’n oomblik by Tofte Manor in die dorpie Sharnbrook wees en dit was my eerste labirintloop-ervaring in Engeland.

Ek staan kaalvoet in die middel van ’n patroon wat soos ’n klawerblaar lyk – maar wat in werklikheid ’n roset is, die hart van die labirint.  Ek is alleen … alleen op reis, maar ook alleen by dié simboliese uitbeelding van die lewensgang.  Die gras is helder groen want dit is mid-somer in Engeland.  Ek is omring deur ou bome en klimop groei teen die stamme op en deurvleg die uitgestrekte takke.  Die reusegroot bome gooi lang skaduwees oor die gras.  Ek word gereflekteer in een van die obeliske van vlekvrye staal wat tot die labirint se spesiale energie bydra.  Ek is bewus van die duiwe wat koer en die geluid van die water wat uit die kraan by die labirint se ingang val en teen ’n gladde, ronde klip wegsyfer.  Daar is ’n groot, geroeste metaalmandjie met ’n ingewikkelde patroon wat aan ’n ketting aan ’n boomtak hang;  die ronde basis is van geweefde rottang en dit lyk soos iets waarin iemand sou kon sit.  Uit die hoek van my oog sien ek die bossie rose met ’n wit fluweellint wat iemand in eerbied neergelê het, en my uitgestrapte swart stapskoene in die gras.  Daar is ’n teken na die meditasiehut om die draai van die labirint en ’n verweerde houtbankie wat oor die labirint uitkyk.  ’n Entjie daarvandaan is klippe rondom ’n uitgrawing gepak waarin swart, halfgebrande stukke hout en grys as lê.  Die elemente van vuur, die aarde, lug en water is verteenwoordig in die ontwerp van dié labirint.   Anderkant die draad met sy houthek wei drie bokkies onverstoord.   Die gewydheid is tasbaar.

Ek het instinktief tot stilstand gekom toe ek die kern van die labirint bereik het.  In my lewe sal ek nooit vergeet hoe dit stil geword het binne-in my nie, hoe dwingend die ervaring was van die son wat deur die wolke gebreek en sy strale oor my skouers gegooi het.

Mens stap ’n labarint binne met ’n gedagte in jou kop, sê jy op ’n stadium. Wat is nou die gedagtes in jou kop, na Enkelreis? En kan ’n mens al daardie gedagtes neerskryf, of is dit onmoontlik om sommige daarvan onder woorde te bring?

Dis nou ses jaar sedert ek hierdie reis onderneem het en ek kan onomwonde sê dat dié vir my ’n lewensveranderende ervaring was.  Ek het nou ’n ander, meer positiewe lewensuitkyk.  In die algemeen is my gedagtes baie meer optimisties as voorheen en word ek nie meer sonder versuim deur my komplekse vasgetrek nie.  Ek glo en ek voel dat daar ’n groter mag is wat my lewensgang bestuur.  En daar is voortdurend nuwe gedagtes en idees wat opbruis, moontlikhede wat voorlê wat my opgewonde maak.

As ek ’n konkrete voorbeeld kan noem:  by die laaste labirint wat ek besoek het, by Holker Hall in die meerland in die noorde van Engeland (die “lakes” gedeelte van my innerlike boodskap), het ek by die labirint ingestap met die gedagte dat ek dié ervaring graag op een of ander wyse sou wou integreer wanneer ek terug is in Suid-Afrika.  My memoir is ’n direkte uitvloeisel van dié gedagte.

Ek is in ’n dissipline waar ek weekliks, op Vrydae, my joernaal op datum bring.  En dit is die plek waar ek hierdie gedagtes neerskryf;  trouens, nie slegs gedagtes nie, maar ook my gevoelens oor en ervaring van hoe my lewe verloop.  Dis iets waarmee ek in Desember 2005 begin het toe menopousale simptome my amper van my kop af gehad het (en my man en seun ook).  Om op papier met dié goed te stoei, was Ariadne se garingdraad wat my uit daardie doolhof gelei het*.  En dis soortgelyk aan wat in ’n labirint gebeur … jy stoei met die indringende gedagtes, die probleme en vraagstukke, die vrese en angste.  En die deurloop daarvan in ’n labirint, of die neerskryf daarvan, bring psigiese verligting.  Ek het geleer dat daar maniere is om my vrese te besweer.

*Ariadne was volgens die Griekse mitologie ’n godin en dit was haar garingdraadjie wat die Ateense held Theseus gehelp het om sy pad uit die doolhof te vind nadat hy die Minotourus doodgemaak het.

litnet