Italië: ‘n Hunkering na meer

Hoe gebeur dit dat ek my skaars drie maande na ‘n besoek aan Switserland weer in daardie uithoek van die wêreld bevind? Hierdie keer in Italië, ‘n klipgooi van Switserland af. Anton woon die VeronaFiere Stone Workshop by, in die noordoostelike deel van die land, en hy besluit om ‘n week langer te bly om na ‘n paar ander stede en geboue te kyk. En dit is by hierdie tweede week wat ek bygetrek word, hoofsaaklik om as bestuurder op te tree sodat Anton op navigasie kan konsentreer! (Darem nie nét daaroor nie.)

Ter agtergrond, hiermee ons verkorte reisprogram: Ons het so ‘n ietsie beleef van
• Noordoos- (Venesië, Verona, Bassano del Grappa en Asolo)
• Noordwes- (Lake Como en Milaan) en
• Sentraal-Italië (Bologna):
7 Oktober: Ons vertrek uit Verona per huurmotor
– ons doen aan by Vicenza en Bassano del Grappa
Bly oor in Asolo
8 Oktober: Vertrek uit Asolo na Venesië
– ry tot by die lughawe (Mestre), en vertrek van daar af met ‘n watertaxi (vaporetti) na ons hotel
– ons bly vir 2 nagte in Venesië
10 Oktober: Vertrek vanaf die stasie in Venesië per trein oor Verona na Bologna
(ons sny die beoogde besoek aan Modena uit en koop ons 15 jaar-oue Balsamico Traditionale op aanbeveling by die Enoteca Italia in Via Malcontenti)
11 Oktober: Vertrek met die Eurostar na Milaan
– ons bly vir 2 nagte in Milaan
12 Oktober: Vertrek per trein na Como Lago (Lake Como) vir die dag
13 Oktober: Na ‘n oggend in Milaan, vertrek ons per taxi na die lughawe (Malpensa) en vlieg via Frankfort terug na Suid-Afrika.

Uit ons reisprogram kan daar dus afgelei word dat hierdie nie ‘n vakansie was nie. Maar ‘n piekniek was dit wel, veral in die lig van Anton se toenemende behendigheid as dit by reisreëlings kom! Ek lig ons kort week toe aan die hand van ‘n klompie persoonlike waarnemings en deel graag ‘n paar staaltjies.

Kom ek begin by die mans in Italië – nie alle mans in die land nie, maar spesifiek die Italiaanse mans. Hulle is mooi. Regtig. Ek dink mooier as die vrouens, alhoewel my man nie saamstem nie. En hulle sonbrille is in die algemeen groter as die vrouens s’n – dié dra hulle met groot flair en sonder ‘n sweempie van selfbewustheid. Ek is mal oor hulle looks: Fynbesnede gesigte; aristokratiese neuse en dik, donker hare. Vir my persoonlik is die mans met grys hare die aantreklikste. Daar sit so een langs my op die bus toe ek van die lughawe in Milaan na die stad ry met my aankoms daar: Toe hy gaan sit, bemerk ek die loodgrys van sy hare; ek kyk skelm na die snit van sy jeans en baadjie, en na die spierwit, stywe cuff wat onder die baadjie se mou uitloer. Rugbyspelers het dit nog nooit vir my gedoen nie.

En hierdie mense is volatile! Net soos my stereotipiese idee van hulle, in elk geval. Ek bevind my kort na my aankoms in die land – op pad na Verona waar Anton is – in ‘n nare alterkasie op die stasie. Ja – ek. Immer beheersd. Ek staan soos ‘n viswyf en skreeu in die stasietoilet. (Dit laat my dink aan die oggend by New York Bagels® in Seepunt waar Josie Borain en ‘n vriendin toustaan vir die ontbytbuffet: Die vriendin en ‘n ouer vrou raak daar haaks oor wie voor in die tou was, en die vriendin haak af en sê vir die ouer vrou: “You silly old cow!”. Net so. Ek het haar met matelose bewondering gade geslaan – ek het nog nooit in my lewe so iets gedoen nie. En dit nog teenoor ‘n ouer vrou!) Elk geval. Daar is geen enkele, ondubbelsinnige sisteem in Italië nie: Nie vir toustaan nie; nie vir koffiebestellings nie; nie vir hulle toilette nie. Op die stasie aangekom, koop ek ‘n wyntjie en kry ‘n plastiekglasie pasella (Anton het my gewaarsku dat die treine hier nie soos in Switserland funksioneer nie). Voor ek ‘n broodjie koop, is ek eers toilet toe (ek moes die wyntjie gaan koop om kleingeld te kry vir die toilet!). Daar is twee beheerde ingangspunte langs mekaar waar jy die geldjie moet ingooi, en dan werk dit so: Ek probeer my tas (gelukkig klein) inmaneuver by hierdie ingang, maar vind uit dit is ook terselfdertyd die uitgang; ek wag ‘n rukkie beleefd, maar besef dan só gaan ek nooit regkom nie. Ek druk vorentoe, net om my vas te loop in die tou vir die toilette – daar is nerens enige beweegruimte nie. Nou maak ek myself klein en wag. En wag. En wag. En hierdie klein, ouer Italiaanse vroue glip een-vir-een agter my uit die tou, duik by my tas verby en seil die toilet in. En dinge raak al meer benoud. Toe die soveelste een dit doen, pluk ek my net daar op en slaan hok met my tas. Maar wat – sy steur haar eenvoudig nie aan my nie. Ek haak op Engels af en stotter iets oor die tou; sy sê iets op Italiaans terug en naderhand skreeu ons vir mekaar. En hierdie klein peasant maak haarself staan in die toilet, swaai haar heupe tartend heen en weer en wriemel haar vingers vermakerig weerskante van haar kop vir my, kompleet soos ‘n klein apie. Ek gee nie bes nie, en klou aan die deur vas omdat ek dink s? sal sy nie haar draai loop nie. Nee wat: Sy begin net daar haar swart rok optrek en laat sak haar agterstewe. Ek klap die deur toe in ‘n laaste desperate poging om ‘n greep op die situasie te kry. En staan daar en stoom terwyl die ander Italiaanse vroue in die ry tongklappend verwys na iets wat soos travellers klink. Asof ék die een is wat hier soos ‘n vark opgetree het. Toe die tannie uitkom, is haar tjank effens afgetrap en ek kom gou agter hoekom: Sy was te laat. En nou moet ek in hierdie nat spul probeer om ‘n draai te loop met ‘n tas wat maak dat ek skaars my stert kan draai. Ek stap daar uit met ‘n broek wat om my enkels flap soos ‘n nat vis. De bliksem in. Raak nog meer de bliksem in toe ek besef my plastiekglasie is in hierdie gestoeiery platgedruk. Nou gaan ek ‘n broodjie koop – iets om my serotonienvlak op te stoot. En daar loop ek my in nog ‘n tou vas. Die hele oefening herhaal homself – maar hierdie keer hou ek my mond. Ek gaan vandag ‘n panini met proscuitto en kaas op hierdie fokken stasie koop – al is dit die laaste ding wat ek doen.

Maar hierdie is nie my enigste toiletstorie nie – alhoewel daar van humour in vele gevalle maar min sprake is. Daar is op Engels ‘n woord waarvoor daar nie ‘n Afrikaanse ekwivalent in mý woordeskat is nie: “flummoxed”. Ek was flummoxed deur die toilette in Italië. Ek het ‘n hele paar keer soos ‘n muil vasgesteek as ek met ‘n hurktoilet gekonfronteer word (vir dié van ons wat nie so goed is met prentjies in die kop nie: ‘n Squatting toilet). Bedink jou. Dan het heelparty restaurante en openbare toilette heeltemaal weggedoen met ‘n pan – seker omdat die bleddie mans in elk geval nie die pan platslaan nie en dit (gewoonlik) natpie. (O ja – ek het vergeet om te noem dat die toilette baie dikwels unisex is.) Dan kry mens elektriese toilette, iets wat ek nog nie beleef het nie. Alles gebeur elektries of outomaties: As jy inkom, slaan die pan plat en die strook papier (!) op die pan lig op; as jy jou agterstewe oplig, spoel die toilet outomaties, en terselfdertyd spuit ‘n deoderiseerder die lug in; as jy uitgaan, skakel die lig af. En laat ek byvoeg: Jy soek jou gewoonlik simpel na die plek om die toilet af te druk en/of die krane oop te draai. Ek dink dit is doelbewus. Partykeer moet jy die toilet afdruk deur ‘n goed-versteekte knop op die vloer te trap (kyk agter die bak, groef in die muur ensovoorts ensovoorts). Partykeer moet jy die waterkrane oopdraai deur dieselfde te doen. Of soms is daar pedale onder die wasbak wat jy moet trap – een rooi en een groen; ek kon darem uitmaak dat die een vir warm en die ander een vir koue water is. Maar my volstrekte nadir was die toilet by die Metro in Milaan, waar ons op ‘n drafstap op pad terug is na ons hotel voor ons die terugtog huis toe moet aanpak. Ek besef ek gaan nie die hotel haal nie, en roep ‘n halt, daal met die trappe die ondergrond in. Die deur na die enkele openbare toilet staan oop. So far so good. Ek stap in en besef die vloer is nat. Ek probeer om nie te wonder hoekom nie en lig net gelate my broekspante. Ek probeer die deur toemaak. Nothing doing. Naderhand hurk ek maar in desperaatheid en hou my oog op die verbygangers wat aan die anderkant van die glasdeur verbyhaas. Die oomblik toe ek gaan sit, klap die deur toe en word die hele toilet in stikdonkerte gehul. Gelukkig is ek nie bang vir die donker nie en ek slaak ‘n sug van verligting. Maar die oomblik toe ek opstaan, tref ‘n skoot yskoue water my op die enkels, die toilet spoel en die ligte gaan aan. Eureka. Ek hoef minstens nie te kommer dat dit iets anders as water op die vloer was nie. Maar wat doen ek nou aan my deurweekte skoene en broeksome? Ek lag s? van skone hulpeloosheid toe ek in die sonlig by Anton kom waar hy geduldig staan en wag, dat ek hom nie kan vertel nie. Hy sal maar die storie moet lees wat in daardie stadium reeds sterk in my kop begin vorm aanneem het!

Daar is in die algemeen min geduld met die travellers – veral in Venesië volgens ons ervaring. Daar skreeu die bleddie gondolieri – of wat ookal die meervoudsvorm is vir die bootmanne – op my en Anton. Omdat ons nie mooi verstaan het hoe die proses werk om kaartjies vir die gondola te koop waarmee ons die Grand Canal wou oorsteek nie. Hierdie ervaring word net getroef deur ons ervaring by die restaurant in die skadu van La Fenice (die teater wat in 1996 afgebrand het en daarna opgebou is as ‘n replika van die oorspronklike). Soos in ander restaurante, kry jy hier onvermydelik die swakste tafel of tweede swakste tafel (as ander toeriste voor jou daar is); ons kelner skiet die mandjie met brood oor die tafel sonder om eers in ons rigting te kyk – dismissive is nie die woord nie, amper minagtend. Dit staan in skerpe kontras met die kelnerin wat my gehelp het toe ek by aankoms in Milaan op die lughawe koffie bestel het: Toe sy my koffie neersit en ek dankie sê, antwoord sy “my joy” – menende natuurlik “my pleasure”. Maar sy was ‘n joy.

Praat van vreugde. Ek het persoonlik vreugde geput uit veral drie plekke: Asolo, waarvan ek later meer vertel, Tombe Brion en die meer in Como. Kom ek begin by die meer: My fassinasie met die uitgestrektheid van water het ek reeds in my onlangse skrywe oor Switserland beskryf. Trouens, ek dink daaraan om ‘n toer aanmekaar te sit om net na die mere in Europa te gaan kyk. Om hierdie rede was Como Lago dus vir my ‘n hoogtepunt; ek was besonder spyt dat ons nie ook ‘n besoek aan Garda kon inpas nie (sal die meer altyd onthou, want Agatha Wypkema, ‘n koshuismaat, het ‘n dogter na hierdie meer vernoem). Como is ‘n pragtige klein plek en die meer – wat na die dorp vernoem is – strek so ver soos die oog kan sien. Hier het ons toevallig ons enigste pizza in Italië geëet en dit was een van ons goedkoopste maaltye. (Dieselfde kan ongelukkig nie van die koffie hier gesê word nie; dié grens aan blatante uitbuiting!) En nadat ons die hoeveelste persoon sien uitkom by die Gelateri Lariana langs die restaurant, moes ons ook maar swig: Ek het klapper gekies, want nadat ek klapperjoghurt in een hotel te ete gekry het, het ek verslaaf geraak.

Op ‘n meer somber noot: Tombe Brion verwys na die graf-“kompleks” van die egpaar Brion wat ‘n entjie van Asolo in die hamlet San Vito se dorpsbegraafplaas opgerig is. Dit is ontwerp deur die befaamde Venesiese argitek Carlo Scarpa (1906 – 1978) wat self ook hier begrawe is. Maar kom ek verduidelik: Hierdie is geen gewone graf nie; trouens, een inskrywing op die Internet verwys daarna as ‘n praalgraf. Dit is as’t ware ‘n “kompleks” wat die begraafplaas self aangrens en wat die omliggende plattelandse landskap as sy uitsig neem. Dit bestaan uit verskeie konstrukte en elemente en sluit ‘n private kapel vir die familie en selfs ‘n reusegroot waterleliedam in (volgens Scarpa self herlei die water na sy Venesiese herkoms). Scarpa het die graf in opdrag van sy kliënte, die welgestelde egpaar Brion ontwerp – Giuseppe was ‘n industrialis. Mens wil dink dat Scarpa sekerlik, hetsy bewustelik of onbewustelik, hierdie opdrag ook vir homself uitgevoer het en dus vrye teuels aan sy inspirasie verleen het. Anton sal in sy eie skrywe oor Italië oor die argitektuur van hierdie verskynsel skryf, maar ek persoonlik is aangegryp deur die stille omvang van die plek, en die wyse waarop simboliek uit verskillende oorde – Zen, Egiptiese tombes en dies meer – met die ontwerp verweef is. Woorde kan hierdie nie beskryf nie, en Anton het baie spesiale foto’s geneem. Op ‘n manier is dit aangrypend hoe twee mense se stoflike oorskot en nalatenskap op hierdie spesiale wyse verewig is: Die argitek het die twee sarkogawe waarin die egpaar begrawe is, na mekaar laat kantel, sodat elk die ander – selfs in die dood – as’t ware kan “aanraak”; vir my was die mees sentrale simboliek in die geheelontwerp die twee mandalas wat mekaar by die middelpunt oorkruis. My aanvoeling is dat ek ‘n storie nét hieroor moet skryf – een waarin ek die argitek self aanhaal en een wat hopelik reg kan laat geskied aan uitsonderlike enkelinge se visie.

Maar terug na die lewendes: Ons kom agter dat die Italianers hulle cocktails baie ernstig opneem. Of jy nou in Venesië, Bologna of Milaan is. Die graad van erns bly dieselfde – dis net die versnapperinge daarmee saam wat verskil. Partykeer kry jy ‘n bordjie tjips saam met jou drankie, op ‘n ander keer olywe en neute of ‘n mini pizza; by die Gritti Palace Hotel in Venesië die heerlikste, vars vrugtekebabs. By die Corona d’Or waar ons in Bologna bly, is daar ‘n groot buffet uitgepak met bottels sjampanje op ys; maar Bologna is ‘n studentedorp – die universiteit in Bologna is die oudste in Europa – en hier kan jy meemaak aan die buffet wat hoofsaaklik uit rysgeregte bestaan. Die studente pak in en eet sommer aandete vir die prys van die skemerkelkie. In Milaan loop ons ons in die Vrydagaand-feestelikhede vas en betaal vir ons wyn per glas meer as wat ons bereid sal wees om te betaal vir ‘n goeie bottel chardonnay in ons land. Maar by Harry’s Bar in Venesië kry jy niks. Net jou drankie. En teen die pryse bly die mense ook nie sit na die eerste een nie. Hierdie plek was blykbaar Hemingway se geliefkoosde watering hole en ek drink my eerste Bellini hier, die skemerkelkie wat as Venesië se eie beskryf word.

Om ‘n skemerkelkie te bestel, is in elk geval ‘n baie meer straightforward proses as om koffie te bestel. Hierdie kan gewoon as ‘n babelse verwarring beskryf word. Die koffie saam met ontbyt in ons hotelle is die enigste uitsondering: Jy kry ‘n pot koffie en ‘n bekertjie warm melk met ‘n skuimlagie bo-op. Maar koffie in die middeloggend en laatmiddag, soos my gewoonte is, is hel om te bestel. My voorliefde is ‘n gewone filterkoffie wat ek met warm melk en bruinsuiker wil drink (soos ek en Albé dit by Oliewenhuis doen), terwyl Anton swart decaf drink; soms bestel hy Espresso waarvan hy ‘n dubbele een in ‘n groot koppie wil hê. Niks van die truuks wat ons in Frankryk op koffievlak aangeleer het, werk hier nie. Sê jy “crème”, dan kry jy room. Ons dink Americano is die towerwoord, maar dit lewer nie oral die standaardgrootte koppie op nie. En meer dikwels as nie kry Anton steeds ‘n vingervol Espresso, al is die koppie groot. Eers op ons laaste dag, in Milaan, slaan ons die bestelling op sy kop: Ek moet vra vir eel kah-fee, Americano, con latte, en dan om dubbel seker te maak dis net myne, oo-noh; en dan vat ons Anton se bestelling: Decaffinato doppio. Maklik. Maar dit het ons ‘n week geneem om by hierdie punt uit te kom. Jy moet dit eerder doen soos die Italianers dit doen: Vroegoggend in sy coffee bar om die hoek van sy bly- of werksplek. Vingervolkoffie in piepkleinkoppie met ‘n glas water. Pikswart en bitter. Hulle drink hom staan-staan en gooi dit in een sluk in die keel af, kop agteroor gegooi – soos medisyne.

Die wyn is die héél maklikste om te bestel. En natuurlik die duurste. Ons drink net vee-noh bee-ang-koh. Eers per glas. En naderhand, vol waagmoed, per bottel. In Verona en omgewing drink ons Lugana. En kom naderhand agter hoe lekker die chardonnay is wat mens in Italië kry – of dit nou hul eie is, of van Chile of waar ookal. Die lekkerste een is Tre Monti. Colli D’Imola. Chardonnay Ciardo. 2005. Ons lekkerste wyndrinkervaring is ongetwyfeld op die houtdek van The Palace Hotel Gritti in Venesië waar ons oor die water vol bote uittuur in die rigting van die sakkende son, die Santa Maria della Salute in die voorgrond, omhul in stellasies wat soos fyn draadwerk om sy (eintlik haar) koepels weef – ‘n groot restourasieproses is onderweg. (En laat ek sommer hier byvoeg, indien ek die indruk geskep het dat ek negatief is oor Venesië: Dit is ‘n sonderlinge stad en ‘n sonderlinge ervaring. En as ek kan, sal ek graag my kind aan hierdie stad wil voorstel.) Anton is vol kwistighede; reken ons moenie die omskakeling van euro na rand maak nie – dan is die wyn goedkoop.

Die Italianers is ongelooflik stylish, net soos mens al gehoor het. Hulle trek mooi aan. Hulle skoene is elegant – dit is byvoorbeeld ‘n heel gewone verskynsel om ‘n mooi aangetrekte vrou met hoëhakskoene op ‘n fiets te sien, handsak oor die skouer. Trouens, hier is ‘n Louis Vuitton-sak van een of ander aard de rigueur. En hulle begin al jonk; die jong meisies begin gewoon net met die kleiner weergawes van Louis Vuitton. Die mense se haarstyle is meer interessant en ek het nog nie in Suid-Afrika sulke brilrame gesien nie.

Milaan is natuurlik die modemiddelpunt van Italië en The Milanese Experience word beskryf as cutting-edge shopping. Luister net hierna:
A must-see for shopaholics, the incomparable Via Montenapoleone and its offshoots are at the heart of the single most fashionable retail acre in the word. Shopping this exclusive “golden triangle” of showcase-studded streets is heaven for those with deep pockets and purgatory for those reduced to windowshopping (Schultz, 2003:201).
Anton is die een wat sy lippe afgelek het vir ‘n shopping trip. Hy koop ‘n beautiful baadjie met opslaankraag by Emporio Armani, en die volgende dag, in Via Montenapoleone, kom ons agter hoekom dit relatief bekostigbaar was (heel vergelykbaar met Anton se pêl Cornél Snyman se pryse by Bentley’s). Ons was nie by die boetiek Georgio Armani nie: Dít is the real thing, the real McCoy. Die sogenaamde “emporio” is vir ouens soos ons wat dínk ons kan in Milaan shop. Ek het soveel mense gesien met elegante pakkies van Zara wat argeloos oor hul arms geslinger is dat ek naderhand uit nuuskierigheid daar gaan inloer het. En visualiseer die boetieks wat sy-aan-sy staan in Via Spiga naas Via Montenapoleone: Prada, Dior, Dolce & Gabanna, Tiffany & Co, Roberto Cavalli en Hèrmes, tot iets genaamd Juicy Couture. Skoeisel word in hierdie stad veral ernstig opgeneem: Ek sien hoe loer die mense na my plat plakkies (weliswaar nie rubber nie) en dis beslis nie goedkeuring wat ek op hul gesigte lees nie. En by wyse van ‘n voorspelling vir die Suid-Afrikaanse winter: Jy gaan ‘n stille modedood sterf as jy nie in besit is van ‘n paar stewels wat tot by jou knie strek nie.

Anton is reg: “Neem minder bagasie en meer geld saam”.
(Vir die rekord: Behalwe Anton se aankope by Emporio Armani en – natuurlik – ‘n nuwe brilraam, het ons vir onsself slegs die volgende aangekoop: ‘n Dieprooi hartjie van egte Murano-glas om my nek te versier (‘n skamele R120), en ‘n outentieke Venesiese masker vir ons huis.)

Aan die ander kant van die koopgier-spektrum lê natuurlik diegene wat in absolute armoede leef. Die bedelaars in Italië is eie aan die plek waar hulle ‘n bestaan probeer uitkerf. Hulle kan rofweg in drie kategorieë verdeel word: Die meeste het ‘n fisiese gebrek of wond van een of ander aard, en kouse word afgetrek en broeke en hemde word opgetrek om dit onder die verbyganger se aandag te bring terwyl hulle swaar op ‘n kruk leun. Party, veral in die duurder stede, het duidelik ‘n drug habit van een of ander aard, en skud hulle bekers of koppies parmantig in jou gesig terwyl hulle maer honde dikwels daarnaas in die skadu van ‘n gebou skuil; en dan is daar ouer vroue, of jonger vroue met kinders, wat sonder fut voor hulle sit en uitstaar, oë strak en blikbord aan hulle voete. In Venesië hurk daar ‘n seun naby die Rialto-brug; sy hare groei aan die een kant oor sy oor en teen sy wang af; hy kerm erbarmlik. In Milaan neem ‘n vrou by haar plek in Via Spiga stelling in tussen die swierige boetieks; dat hierdie háár plekkie is, sien mens aan die stoel wat sy na haar smaak rangskik voor sy gemaklik raak. ‘n Entjie van een van ons hotelle af sit daar ‘n man op die sypaadjie: Hy lyk soos ‘n Zen Buddhis en is in wit geklee van kop tot toon; sit en hekel en steur hom glad nie aan die verbygangers nie; sy storie word vertel deur ‘n groot kartonbord wat horisontaal voor hom uitstrek; dis in Italiaans en ek kan dus niks van die lang narratief uitmaak nie. En dan is daar ‘n dogtertjie wat kordaat na die tafels op die sypaadjies in Milaan stap: Sy speel vinnig ‘n kort rympie op haar bekfluitjie en steek dan haar hand uit; ons tref haar later in die aand weer op ‘n ander plek aan en sy glimlag in herkenning toe ek my kop skud, beduie dat sy onthou dat ek al reeds ‘n eurostuk oor die tafel gestoot het.

Die taal is natuurlik skreeusnaaks. Ek bedoel nou die onderskeie faux pas wat ons begaan en wat ons lees. Hierdie mag ‘n vreeslike veralgemening wees, maar die mense wat vertaling van Italiaans na Engels in hierdie omgewing doen, moet gewoon geskiet word. Ek gee ‘n paar voorbeelde:
• In ons hotelkamer is daar ‘n duur gedrukte kleurbrosjure wat Paolo Moretti se winterversameling bekendstel. Van die volgende is spellings wat in die brosjure wemel: determins, femminine, reversibile, Cachemir (my ‘n rukkie geneem om te besef dis cashmere waarna daar hier verwys word), tecnical, streched (werkwoord vir dit wat die belt veronderstel is om te doen) en breist (soos in double breast). En dan haal ek nie eers die kopie aan wat plek-plek onverstaanbaar is nie.
• Ek lag te heerlik by ‘n toilet in die Metro in Milaan. Dis amper so erg soos die kennisgewings by die rusplekke op die N1 tussen Bloemfontein en Kaapstad. “For hygiene – no washing of teeth allowed” en “Reserved for toelette (sic) and hand washing”. Inderdaad. ‘n Toilet is per slot van sake net ‘n toilet.
• In Venesië is daar plekke waar die shopkeepers uit radeloosheid die stukkie spasie of die marmertrappies voor hulle winkeltjies teen die vervlakste (en gevloekte) travellers probeer beskerm. Beskryf dit as “private space”.
• Êrens word die toeris beleefd bedank: “tenk you”.
• In Italiaans het jy natuurlik moeilikheid met die geslag van die naamwoorde en my beskeie waarneming is dat daar hier meer vroulik as manlik is. Soos die groot stuk graffiti dit in blokletters uitskel: “Milan MERDA!!”. Myns insiens word dit vertaal as “Milan, she is shit”. (Anders wat dit tog sekerlik “Milan MERDO!!”?)

Hier neem ciao ‘n lewe van sy eie aan, en daar is vele variasies op die tema van totsiens: Daar is CIAO-ciaociao, en dan is daar meer algemeen ciaociao of ciaociao-ciaociao, soos ‘n rympie. My persoonlike gunsteling op die taalvlak is allora: Nou ja toe; dus; hier is ons (vry vertaal).

Allora. ‘n Paar laaste eienaardighede en idiosinkrasieë om mee af te sluit:
• Hier kry jy nie jou brood gebotter nie – balsamiese asyn en olyfolie is die ding.
• Piano is die vloer in jou hotel en “Pronto” is hoe die Italianers hul selfone beantwoord (rofweg vertaal: “Hallo. Praat maar”.)
• Die vervoermiddel of choice is ‘n bromponie. Dikwels ‘n Vespa, wat as ‘n stylikoon beskou word. Hierdie keuse is voor-die-hand-liggend as mens in aanmerking neem dat petrol hier van die duurste in Europa is.
• Die hele wêreld is vol graffiti en selfs die mooi ou geboue word nie ontsien nie. Jy kom heel dikwels ‘n span van twee teë wat met ‘n waterspuit die ergste skade van die marmermure probeer afblaas. (Daar moet seker ‘n spesiale afdeling in hulle plaaslike begrotings hiervoor wees. Wonder wat noem hulle dit?)
• Kaartjies vir die trem kan nie op die trem self gekoop word nie, maar by die naaste tabacchi of klein koerant-tydskrifstalletjie. Dit vind jy natuurlik uit wanneer jy reeds op die trem sit.
• Jou ervaring in ‘n restaurant word bepaal deur die kelner se bui en gesindheid teenoor travellers.
• Ek en Anton steek albei vas toe ons ‘n boetiek se naam in Venesië bespeur: Witboy. ‘n Suid-Afrikaner?
• Ons het via ons vriendin Doreen in Kaapstad ‘n goeie wenk gekry oor ons blyplek in peperduur Milaan. Karen Roos, redakteur van Elle Decoration en voorheen onder andere van Red, bly gewoonlik in die Hotel Ariston wanneer sy die modeweke in hierdie stad gaan bywoon. Dis ‘n goeie aanbeveling, veral in die lig daarvan dat die hotel baie sentraal geleë is.
• Daar is ‘n Gelateri om elke hoek en draai en mense loop in die straat en smul aan roomys in horinkies of bakkies.
• Almal maak die meeste van die klein stukkie spasie tot sy beskikking, daarvan getuig die kleurvolle balkonnetjies oraloor. In Bassano del Grappa, toe ons gaan kyk na die Ponte degli Alpini wat oor die Brenta-rivier strek (in 1569 deur Palladio ontwerp), sit ons op iets wat jy as niks anders as ‘n “stoepietjie” kan beskryf nie; maar wat, hier sit ‘n paar van ons by drie tafeltjies ingedruk wat my persoonlike ruimte in elke moontlike sin challenge. In Venesië is die daktuintjies veral interessant: Oral steek daar houtstruktuurtjies uit tussen die menigte antenna’s wat strek so ver soos die oog kan sien. By ons hotel in Venesië, die Hotel Saturnia & International Venezia, ontdek ons dat die hotel ‘n solarium op die dak het. Hier eet ons ‘n piekniek onder die sonsambreel met die vista van rooi kleidakteëls voor ons.

Geen reisvertelling is volledig sonder sy regrets nie. Myne het reeds begin op die vlug van Suid-Afrika af. Daar sit ‘n skaam jong meise langs my en die kelnerin vra vir haar of sy nie gister op die vlug na Johannesburg was nie. Ek draai natuurlik ewe nuuskierig na haar en sien toe die vurige rooi wat oor haar wange sprei. Die kelnerin ook, en maak haarself vinnig uit die voete. Ek vra my reisgenoot maar toe daarna in ‘n poging om die ongemak te oorkom (ons het nog nie ‘n woord met mekaar gepraat tot op daardie stadium nie). Dit blyk dat sy nog altyd Suid-Afrika toe wou kom, en dat sy ‘n driemaande-lange reis bespreek het waar sy ook ‘n draai in Namibië sou gooi. Ongelukkig het sy blykbaar opgeëindig in ‘n backpackers in Kemptonpark (as ek die naam reg gehoor het) – van alle plekke – en die ervaring was so erg dat sy haar ouers onmiddellik gebel het. Hulle het haar die volgende dag terug bespreek Amsterdam toe. Die arme ding. Al daardie jeugdige entoesiasme wat so vinnig geblus is deur een slegte ervaring. Ek troos ongevraag en hoop stilweg dat sy nie die gevoel oorhou dat sy ‘n mislukking is as gevolg hiervan nie – natuurlik my projeksie. En natuurlik dink ek aan hoe ek Duits op skool geneem het om ‘n au pair te word, daarna Frans op universiteit vir dieselfde rede. Maar elke keer het my ma my teruggehou en het ek nie genoeg waagmoed aan die dag gelê om aan te druk in die aangesig van haar voorbehoude nie: Ek moes eers klaar swot, eers ‘n werk kry, en so het die tyd en die geleenthede verby geglip. Vandag verstaan ek hierdie vrese, en ek sal my eie hart vashou as mý kind by my kom en sê hy wil alleen oorsee gaan.

My hart was ook besonder seer op hierdie vlug. Ons lieflingkat, Dmitri die Siberian, is daardie middag dood terwyl ek op die lughawe in Johannesburg gesit en wag het vir my vlug. Ons het twee moeilike weke agter die rug gehad waar ons en hy by die veearts geboer het; die veearts kon nooit werklik uitvind wat die probleem is nie, en het ook nie geweet hoe om hom verder te behandel nie. Ek het einde ten laaste Dmitri se teler gebel en hy sou daardie middag per vliegtuig na haar in George gaan sodat sy en haar spesialisveearts aan daardie kant kyk of hulle iets kon uitrig. En die volgende oomblik bel die veearts in Bloemfontein se kantoor om te sê Dmitri het skielik nog verder versleg en is dood. As mens aan reïnkarnasie glo, dan kan mens glo dat hierdie kat ‘n spesiale siel was. Nie ‘n old soul nie, maar ‘n jong een: Trusting en besonder liefdevol, glad nie afsydig soos wat daar beweer word katte is nie; ‘n stille teenwoordigheid in ons gesinnetjie van drie. In die dag was dit ek en hy hier by die huis. Ek mis hom oneindig.

‘n Ander regret hou verband met die omstandighede waarin ons ons kinders in hierdie land moet grootmaak. Ek verwys spesifiek na die geweld, na die feit dat daar nie respek is vir menselewens nie, na die hoë mure en grendels waaragter ons onsself en ons besittings moet toesluit. Toe ons twaalfuur in die nag in Verona terugstap na ons hotel, steek die wete letterlik soos ‘n lem in my innerlike: Dat ek wil hê dat my kind s? moet grootword, só moet leef, soos ons op daardie magic oomblik in Verona ervaar.

Alhoewel Anton sy eie storie sal skryf, dink ek hy is besonder spyt dat hy nie na Leonardo da Vinci se groot fresko van Die Laaste Avondmaal in Milaan kon gaan kyk nie. Mens moet vooraf bespreek, en die dae waarop ons in Milaan was, was reeds vol bespreek. Ek dink die Peggy Guggenheim Collection waarna ons in Venesië gaan kyk het, het darem in ‘n klein mate hiervoor vergoed.

‘n Laaste, groot, jammerte hou verband met die klassieke dilemma wat die reisiger in die gesig staar – ek dink op Engels word dit ‘n conundrum genoem. Jy sien al hierdie wonderlike plekke, en jy besef dat jy nie altyd weer daar sal kan uitkom nie; of jy ontdek ‘n plek, maar jou reisplan en -besprekings laat nie genoeg tyd om dit te verken of te ervaar nie. Asolo is so ‘n voorbeeld. By die “International Gala Dinner” in Verona, ter afsluiting van Anton se week, ontmoet ek ‘n akademikus van Arizona; haar man is 10 jaar jonger as sy, ook ‘n argitek. Ons ervaar dadelik ‘n konneksie en sy vertel van Asolo, hoe mooi en hoe stil dit daar is. Anton vertel hoe hy probeer het om vir ons verblyf daar by die Villa Cipriani Hotel te bespreek, maar dat dit vol was (my man is vreesloos op hierdie vlak; hy bewapen homself met Karen Brown se handleiding oor spesiale blyplekke wat Johann Beukes jare gelede met ons eerste besoek aan Frankryk vir hom aanbeveel het; verder wend hy die Internet met groot vrug aan en snuffel eenvoudig met onfeilbare estetiese aanvoeling agter die plek met nét die regte atmosfeer aan). Op die oggend van ons vertrek uit Asolo vertel hy nog oor die mooi tuin by die Villa Cipriani en hoe mens dalk net na die plek moes gaan kyk het; op daardie juiste oomblik sien ons die hotel se bord raak en ek slaan net daar rem aan en dring daarop aan dat hy ‘n foto gaan neem terwyl ek dubbel geparkeer staan in die nou stegie. Eers by die huis, toe ek na die foto’s kyk wat hy laat uitdruk het, vra ek oor die mooi plek wat ek nie herken nie – net om te hoor dat dit Villa Cipriani is. Later die aand blaai ek deur die boek wat ek in Augustus vanjaar vir Antonius vir sy verjaardag gegee het, met die wens dat ons van hierdie reismomente in ons lewe saam sal kan meemaak: 1,000 Places to See Before You Die. A Traveller’s Life List (Schultz, 2003). Op bladsy 228 lees ek die volgende oor Asolo, in die distrik Veneto, en ek besef dat ek dit in ‘n epos aan Anton deurgegee het terwyl hy sy reis beplan het, voor sy verjaardag waarop ek die boek vir hom sou gee:
Robert Browning pronounced this Renaissance town “the most beautiful spot I ever was privileged to see” and spent most of his final years there. Nestled in the gentle green hills of the Veneto, and within breathtaking view of the pink snowcapped Dolomite mountains … Over the years, most of them [Venice’s noble and patrician families] lodged at the Palladian-styled villa purchased by Browning, the home of today’s perfectly faded Villa Cipriani Hotel. One of Europe’s most seductive country hotels, it is particularly known for its topnotch dining and its fragrant garden, filled with roses, pomegranates, and birdsong.

Ek sal moet teruggaan.

Zarine Roodt
23 Oktober 2007

Kliek hier om af te laai