enkelreis

Hierdie boek ontleen onteenseglik aan eat pray love van Elizabeth Gilbert.  Sy het geskryf oor haar jaar van heling na ‘n helse egskeiding.  ‘n Jaar wat verdeel is tussen drie lande:  Italië – waar sy haar aan die Italiaanse kookkuns vergryp het;  Indië – waar sy vloere in ‘n Ashram geskrop het, en Indonesië – waar sy haar balans herwin en liefde gevind het.  Die ritme van haar titel het my geïnspireer en ‘n drieledige struktuur gegee vir my eie uiteenlopende reiswedervarings.

Maar laat ek by die begin begin.

Vir ‘n jaar of meer voor ek 50 geword het, het ek gestoei met die gedagte om op my eie erens heen te gaan as psigiese voorbereiding vir dié dag en vir die tweede helfte van my lewe.

En toe, vroeg een oggend, terwyl ek ingedagte my voet aan my kant van die bed op die houtvloer neersit, skiet drie woorde my te binne:  Lakes and labyrinths.  Net dit.  Maar die woorde het my bygebly en ek het met verloop van tyd besef dis ‘n boodskap vanuit my onbewuste.  En geleidelik het ‘n reistog rondom hierdie woorde ontwikkel.  Ek het blindweg vertrou …

En by die labirinte begin, omdat ek twee boeke hieroor ter hand gehad het.  Dit was my gedagte om ‘n labirint te laat uitlê vir my vyftigste verjaardag, sodat ek en my mense dit kon stap op die dag van 7 September, en ek het al boeke begin aanskaf hiervoor.  In my twee bronne het ek gesoek na ‘n plek waar daar ‘n konsentrasie van labirinte is – want hoe kies mens uit die duisternis van moontlikhede wêreldwyd?  My keuse het op Engeland geval.  Maar ek het kriewelrig gebly.  Ek was lus vir nóg ‘n ervaring.  Toe kom ‘n kennisgewing van Lapidus in die pos.

En só begin ek ‘n reis aanmekaar string:  ‘n week in Engeland met ‘n week in Griekeland daarby aangehaak.  Maar iets het bly knaag.  Ek het nog altyd daarna gehunker om op my eie op ‘n Griekse eiland te wees.

My reisprogram, wat deur eiesinnigheid aangevuur is en in ‘n groot mate deur onkunde gekenmerk is, het mettertyd sy idiosinkratiese fatsoen aangeneem:  ‘n week in Engeland om labirinte te loop.  ‘n Week van afsondering op die Griekse eiland Alonissos.  En ‘n week op die dorpie Kissos in die Pelion-streek in Griekeland om ‘n werkwinkel oor terapeutiese skryfwerk by te woon.

Min het ek geweet hóé ‘n invloed hierdie drie weke op my sou hê, en ek het mettertyd verstom gestaan oor die wysheid van my psige om hierdie ervaring op presies hierdie wyse te konstrueer.  Vir my was hierdie reis ‘n helende een.  En dit het die konsep vir ‘n boek opgelewer waarna ek al jare op soek is, sedert ek besef het dat skryf my lewensroeping is.