Bloemnuus, 22 July 2014

Enkelreis is die memoir van ’n vrou op die vooraand van 50. Zarine Roodt se drie week lange avontuur vertel van haar soektog na moeilik bereikbare labirinte in Engeland, haar versugting na stilte op die afgesonderde Griekse eiland Alonnisos en samesyn met medesoekers in die Pelionstreek in Griekeland.

Die reismemoir verken terselfdertyd haar binnewêreld. Sy verweef momente uit haar kinderdae met nuutverworwe insigte ter oorgang na die tweede helfte van haar lewe.

Haar memoir leun sterk op die Jungiaanse sielkunde met sy klem op sinchronisiteit en drome.

Die reiservaring – na buite én na binne – dui die pad aan vir elke vrou op soek na haar unieke self en na persoonlike betekenis.

Die boek is ’n kombinasie van reisvertelling en outobiografie.

Dit is ’n leeservaring met diepte en sy beskryf haarself en haar emosionele belewenisse eerlik en krities.

Sy gebruik inskrywings uit haar persoonlike joernaal en van haar drome om haar binnewêreld te beskryf en om aan die leser te illustreer dat ons die antwoorde op lewensvraagstukke in onsself en ons eie onbewuste kan vind.

Bloemnuus